Nuus 08:00
BULLETIN 21 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering keur ‘n omvattende noodstrategie vir die slagoffers in Ekurhuleni goed
# Die DA versoek ‘n dringende parlementêre debat oor geslagsgeweld
# En die taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni verskyn weer voor die Madlanga-kommissie
# Die Inter-ministeriële Komitee oor Geslagsgeweld en Vrouemoord het ‘n omvattende strategie goedgekeur om die oortreders agter die moord op nege vroue in Ekurhuleni, Gauteng, vinnig voor die gereg te bring. Drie persone van belang is aangekeer vir ondervraging, terwyl die polisie probeer vasstel of al die moorde met mekaar verband hou. Die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Gestremde Persone, Sindisiwe Chikunga, waarsku mense om voortdurend met vroulike familielede in die metro kontak te hou:
Die DA het intussen die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, in ‘n brief gevra vir ’n dringende debat van nasionale belang oor die toenemende krisis rondom geslagsgeweld en vrouemoord in Ekurhuleni. Lisa Schickerling van die DA sê hoewel geslagsgeweld en vrouemoord reeds lank op die Parlement se agenda is, vereis die verslegtende situasie in Ekurhuleni dringende en spesifieke aandag:
# Die Mpumalanga-taxibaas, Joe “Ferrari” Sibanyoni, verskyn vandag weer voor die Madlanga-kommissie. In sy vorige verskyning in Augustus, het hy talle ernstige bewerings gemaak oor die taxibedryf, vermeende misdaadnetwerke en sy eie ervarings. Volgens hom gebruik sommige taxiverenigings ‘swendel-geld’ om huurmoordenaars vir sluipmoorde te betaal. Sibanyoni en sy drie medebeskuldigdes is tans uit op borgtog. Hulle staar aanklagte van afpersing en geldwassery in die gesig wat verband hou met bewerings dat hulle meer as 2,2-miljoen-rand van die myn-sakeman, Thomas Ntuli, geëis het as sogenaamde beskermingsgeld.
# President Donald Trump van Amerika sê die enigste moontlikhede is om Iran te vernietig, dit ekonomies te laat verrot, of om ʼn ooreenkoms te bereik. Dit volg nadat Amerika, saam met sommige bondgenote in die Midde-Ooste, gereedmaak om optrede teen Teheran te hervat. Trump het aan Fox News gesê hy is bereid om hierdie week by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering nie-amptelik met Iran se president Pezeshkian te vergader. Iran het intussen gewaarsku lande in die streek wat Amerikaanse aggressie teen Teheran ondersteun, sal as deel van die konflik beskou word.
# Gholf: Die Amerikaner, JJ Spaun, het 67 in die laaste ronde aangeteken om die PGA-kampioenskap met twee houe te wen in sy eerste deelname aan die Europese Toer se spogtoernooi by Wentworth in Engeland. Die Spanjaard, Manuel Elvira, en drie ander, naamlik Rory McIlroy van Noord-Ierland, die Australiër Adam Scott en Aaron Rai van Engeland, is gesamentlik tweede. Spaun, wat nie ingesluit was by Brandt Snedeker se Span Amerika vir die Presidentsbeker nie, sê hy moes ʼn punt bewys:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-414-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-362-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….