Nuus 07:00
BULLETIN 21 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Velenkosini Hlabisa sê die IVP se verkiesingsmanifes verbind die party tot tydige dienslewering
# Die Gautengse Komitee vir Gemeenskapsveiligheid waarsku teen ‘n toename in ontvoerings
# En die VN-hoof vra vir internasionale samewerking voor die VN se Algemene Vergadering
# Die IVP-president Velenkosini Hlabisa sê die party se plaaslikeregeringverkiesingsmanifes is nie ‘n lys leë beloftes nie, maar ʼn verbintenis om dienste betyds te lewer. Hy het die manifes gister by Kwamashu se Princess Magogo-stadion in Durban bekendgemaak. Hlabisa sê die manifes het vyf belangrike punte: werkskepping; die bespoediging van dienslewering en werkbare infrastruktuur; samewerking met en beskerming van tradisionele en Khoi-San-leiers; beëindiging van korrupsie; en bemagtiging van die jeug, vroue en persone met gestremdhede:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap, SANRAL, opdrag gegee om die Moriel Infrastructure Group te ondersoek. Dit volg nadat ʼn direkteur van die maatskappy, Lawrence Mudzinganyama, op video betrap is waar hy ʼn groep vroue in ʼn dames-kleedkamer by die Vlamo-restaurant in Sandton dreig. Hy het verskoning gevra. Moriel het tenders van die padagentskap ontvang, insluitend ʼn kontrak van 71,6-miljoen-rand wat in Januarie verlede jaar toegeken is. Creecy sê SANRAL moet vasstel of die maatskappy wettig aangestel is en sy kontraktuele verpligtinge nakom.
# Die komitee vir Gemeenskapsveiligheid in die Gautengse wetgewer vra dringende optrede ná ‘n toename in ontvoerings. Altesaam 76 ontvoerings is tussen April en Junie in Kemptonpark aangeteken, wat 58,3-persent meer is as in dieselfde tydperk verlede jaar. Gauteng het twee-duisend-367 aangeteken, meer as die helfte van die nasionale totaal. Die komitee se voorsitter, Bandile Masuku, sê meer sigbare wetstoepassing, intelligensiegedrewe ondersoeke en geteikende operasies is nodig. Hy waarsku oor ontvoerings wat verband hou met kapings en ontvoerings vir ‘n losprys:
# Die Forum for South Africa het sy nasionale leier en president, Tebogo Mashilompane, as burgemeesterskandidaat vir die Madibeng- plaaslike munisipaliteit in Noordwes aangekondig. Die party sê die benoeming weerspieël sy verbintenis tot verantwoordbare en deursigtige plaaslike regering. Mashilompane se veldtog sal konsentreer op verbeterde dienslewering, skoon bestuur, verantwoordelike aanwending van openbare hulpbronne en ekonomiese geleenthede. FORUM4SA sê hy sal voor die verkiesing met inwoners en belanghebbendes in gesprek tree oor plaaslike uitdagings en oplossings.
# Wêreldleiers, diplomate, kampvegters en ander invloedryke stemme vergader hierdie week in New York vir die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Leiers sal globale samewerking bevorder, ʼn noodsaaklike hupstoot gee aan die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, en kollektiewe optrede bepleit vir vrede, waardigheid en gelykheid op ʼn gesonde planeet. Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê te midde van wêreldwye bestaanskrisisse, is dit nou tyd vir leiers om saam te kom om gemeenskaplike grond te vind en oplossings te deel:
# Tennis: Duitsland, Brittanje en Spanje is deur na die Davisbeker-eindtoernooi. Die Amerikaanse Ope-kampioen, Alexander Zverev, het Dino Prizmic verslaan om Duitsland se oorwinning van 3-1 oor Kroasië te beklink. Brittanje is ook deur nadat die dubbelspel-span, Henry Patten en Neal Skupski, met Gonzalo Escobar en Diego Hidalgo afgereken het om ʼn sege van 3-0 oor Ecuador te behaal. Spanje het Chili 3-0 verslaan. Die drie lande sluit aan by die gasheer, Italië, Kanada, die Tsjeggiese Republiek, Suid-Korea en Oostenryk wanneer die eindtoernooi in November in Bologna plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-986-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-378-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 102-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….