Nuus 13:00
BULLETIN 20 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gayton McKenzie sê Helen Zille het inwoners van Johannesburg in die steek gelaat
# Twee mense sterf in ‘n reuse- Oekraïnse hommeltuigaanval in die Moskou-gebied
# En sokker: Pirates wil Sundowns se onoorwonne wegwedstryd-rekord ewenaar
# Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, het die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, gekritiseer oor haar rekord en benadering tot Johannesburg. McKenzie sê Johannesburg het nuwe leierskap nodig en die PA se burgemeesterskandidaat, Kenny Kunene, sal dit kan doen. McKenzie se opmerkings vorm deel van die partye se mededingende veldtogte om steun in Johannesburg te werf. Hy het Kunene se vermoë beklemtoon om dienslewering te verbeter en etiese leierskap te bied:
# Die EFF-leier Julius Malema sê die party sal eerlike en etiese leierskap aan eThekwini bied indien hy verkies word. Malema het tydens die bekendstelling van die EFF se KwaZulu-Natalse manifes in Inanda, dienslewerings- en infrastruktuuruitdagings, insluitend water, sanitasie en probleme met paaie, gekritiseer, en steun uitgespreek vir die party se burgemeesterskandidaat vir eThekwini, Hlengiwe Mkhaliphi. Malema sê die party se prioriteite vir plaaslike regering sluit die voorsiening van basiese dienste, jeug-werkverskaffing, groter aanspreeklikheid in munisipaliteite en die inkontraktering van sekere dienste in:
# Die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, het die Nasionale Uitvoerende Komitee-lid, Andile Lungisa, gekritiseer oor sy besluit om sy verwydering van die party se kandidatelys in Nelson Mandelabaai hof toe te neem. Mantashe het, in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in November, tydens ‘n huis-tot-huis-veldtog in Kariega in die Oos-Kaap gesê die ANC se interne strukture moes die geskil self hanteer het. Die saak sal na verwagting later hierdie maand aangehoor word:
# ‘n Geel vlak 2-waarskuwing vir hewige donderstorms is vir die westelike dele van die Vrystaat uitgereik. ‘n Voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, Lungile Makondo, sê verspreide buie en donderstorms word oor sentrale en westelike gebiede verwag, wat kan uitbrei na die verre weste. Die storms sal swaar neerslae, plaaslike oorstromings, oormatige weerlig en ‘n kragtige rukwind veroorsaak. Makondo sê verspreide buie sal vanaf môre voortduur, met temperature wat vandag koel tot warm sal wees voor dit more koeler sal word.
# Russiese owerhede sê twee mense is dood in wat beskryf word as ‘n reuse- Oekraïnse hommeltuigaanval op Moskou en die omliggende gebied. Moskou se burgemeester, Sergei Sobyanin, sê meer as een-duisend-600 hommeltuie is sedert Saterdag onderskep, waarvan 450 die hoofstad geteiken het. Verskeie hommeltuie het ‘n olieraffinadery in Moskou getref, terwyl nog een ‘n woonstelgebou geteiken het. Sowat 400 mense, insluitend 70 kinders, is uit die Ramenskoye-distrik ontruim. Oekraïne het nog nie kommentaar gelewer oor die aanvalle nie.
# En sokker: Die Orlando Pirates sal vandag in Rustenburg probeer om hul onoorwonne aantal wegwedstryde tot vier Premierliga-wedstryde uit te brei wanneer hul teen die Marumo Gallants te staan kom. Die Buccaneers het reeds oorwinnings oor Chippa United en Kruger United behaal en gelyk gespeel teen AmaZulu. Dit ewenaar Mamelodi Sundowns se wegwedstryde, met twee oorwinnings en twee gelykopuitslae. Pirates is vier punte agter, maar het ‘n wedstryd minder gespeel, terwyl Gallants steeds hul eerste oorwinning van die seisoen moet behaal. Afskop is vanmiddag om drie-uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….