Nuus 08:00
BULLETIN 19 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Somadoda Fikeni waarsku oor teenkanting teen aanbevelings van die Madlanga-kommissie
# Robert F. Kennedy Junior sê entstof-skeptici het steun van die Withuis
# En krieket: Die Proteas pak Australië sonder drie gereelde boulers in die eendagreeks
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, Somadoda Fikeni, waarsku aanbevelings deur die Madlanga-kommissie kan teenkanting ervaar nadat die ondersoek afgehandel is. Fikeni het voor die kommissie gesê dit kan regshindernisse, beperkte hulpbronne, administratiewe prosesse of institusionele afhanklikhede insluit, eerder as algehele weiering om die aanbevelings uit te voer. Hy sê die sukses van ‘n kommissie moet gemeet word aan wat ná sy verslag gebeur, insluitend duidelike aanspreeklikheid, voldoende hulpbronne, vorderingsverslae en onafhanklike bevestiging dat die aanbevelings toegepas word:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het sy aansoeke vir die 2027-akademiese jaar geopen. Meer as vyf-duisend aansoeke is binne enkele ure ontvang. Aansoeke by universiteite sluit 31 Oktober en 30 September by kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het in Johannesburg gesê die skema het sy stelsels vir die bevestiging van inligting versterk, die verwerking van dokumente versnel en ondersteuning aan studente verbeter. Hy moedig studente aan om vroeg aansoek te doen en hul plek te verseker:
# Eskom sê sy opwekkingsvermoë verbeter steeds, met ‘n energiebeskikbaarheidsfaktor van 68-persent vir die boekjaar tot dusver, die hoogste vlak in ses jaar. Volgens die maatskappy het onbeplande kragonderbrekings afgeneem, terwyl sowat ses-duisend-200-megawatt se opwekkingskapasiteit ppr die afgelope drie jaar weer by die kragnetwerk gevoeg is. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê diesel-uitgawes het ook met vyf-miljard-rand gedaal vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Die Amerikaanse minister van Gesondheid, Robert F. Kennedy Junior, het aktiviste wat krities is oor entstowwe verseker hul het ‘n “sterk en standvastige bondgenoot” in president Donald Trump en die Withuis. Kennedy het die opmerkings gemaak op ‘n konferensie van Children’s Health Defense, ‘n groep wat hy voorheen gelei het wat hom beywer vir veranderings aan kinderinentings-beleid. Hy het die Trump-administrasie se pogings geloof om riglyne oor entstowwe te verander en gesê hy werk daaraan om die organisasie se prioriteite in beleid om te skakel. Sy opmerkings volg te midde van Amerika se ergste masels-uitbreking in 35 jaar.
# Ten slotte krieket: Die Proteas sal in die eendagreeks teen Australië sonder gevestigde boulers soos Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Ottneil Baartman mot klaarkom. Ngidi het ‘n besering opgedoen terwyl hy vandeesweek in ‘n plaaslike wedstryd vir die Titans teen die Dolphins gespeel het. Gerald Coetzee en Duan Jansen is vroeër by die nasionale groep ingesluit nadat Rabada en Baartman weens beserings moes onttrek. Die twintig-jarige snelbouler Nqobani Mokoena, wat onlangs sy eerste wedstryd vir die Proteas teen Namibië gespeel het, sal Ngidi vervang. Die eerste van die drie eendagwedstryde word Donderdag in Durban beslis.
En, Australië het Zimbabwe met 84 lopies verslaan in die tweede eendagwedstryd in Harare en die reeks beklink, met Travis Head wat 112 lopies aangeteken het. Head het sy honderdtal van net 75 balle behaal, terwyl Cooper Connolly 78 lopies aangeteken het en die kaptein, Mitchell Marsh, 53 bygevoeg het, vir Australië se 356 vir ses. Zimbabwe kon nie byhou met die vereiste lopietempo nie en is uitgeboul vir 272. Head se beurt was ‘n reuseverbetering na sy vorige swak vorm en hy spog met die speler van die wedstryd-toekenning. Die laaste eendagwedstryd word môre gespeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….