Nuus 07:00
BULLETIN 19 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA daag Eskom se voorgestelde tariefverhogings uit
# DENOSA sê die veiligheid van vroue is ’n reg, nie ’n voorreg nie
# En rugby: Die Springbokke pak Fidji voor die 2027-Wêreldbeker-toernooi
# ActionSA in Gauteng se koukusleier, Funzi Ngobeni, het besware by NERSA ingedien teen Eskom se voorgestelde elektrisiteitstariewe vir 2027/28. Eskom vra ‘n gemiddelde verhoging van 8,83-persent vir regstreekse kliënte, terwyl munisipale grootmaataankope met 8,84-persent sal styg. Ngobeni sê huishoudings wat minder krag gebruik, kan groter verhogings verwag weens hoër vaste heffings. ActionSA bevraagteken ook ‘n onverklaarde verskil van 8,5-miljard-rand in inkomste en wil hê Homelight-kliënte moet teen vaste heffings beskerm word. Openbare kommentaar sluit op 2 Oktober, met verhore wat 8 Oktober sal begin:
# Die verpleegkunde-organisasie DENOSA doen ‘n beroep op groter sigbaarheid van die polisie in Gauteng ná die ontdekking van verskeie vroue liggame in Ekurhuleni in die afgelope twee maande. Die organisasie sê die moorde veroorsaak vrees onder verpleegkundiges, van wie talle vroeg in die oggend en laat in die dag van openbare vervoer gebruik maak. Lebogang Phasha van DENOSA eis dringende en deursigtige ondersoeke, veiliger openbare ruimtes en sterker gemeenskapsmaatreëls om geslagsgeweld en vrouemoord te voorkom:
Die DA in Gauteng doen intussen ‘n beroep vir groter samewerking tussen die provinsiale regering, die polisie, gemeenskappe en die burgerlike samelewing om geweld teen vroue aan te spreek. Die party glo die fokus moet daarop wees om diegene wat verantwoordelik is vir die moorde op te spoor, polisiëring en forensiese kapasiteit te verbeter, en verdere sterftes te voorkom. Solly Msimanga van die DA sê die slagoffers se families verdien geregtigheid, terwyl vroue in die provinsie sterker optrede nodig het om hul veiligheid te verbeter.
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, professor Somadoda Fikeni, sê baie regeringsprosesse word gedryf deur nakoming eerder as deur die waarde wat dit beoog om te lewer. Fikeni het voor die Madlanga-kommissie gesê finansiële openbaarmakings word dikwels slegs as ‘n nakomingsoefening beskou. Hy sê die openbaarmaking van bates moet fokus op deursigtigheid en aanspreeklikheid, in plaas van om bloot as die nakoming van regulasies beskou te word:
# Die Franse president Emmanuel Macron sê Russiese aanvalle teen Europa en Frankryk is aan die toeneem en hy het optrede belowe. Hy het na ‘n vergadering gister met politieke partyleiers in Parys gewaarsku dat kritieke infrastruktuur, insluitend verdedigingsnywerheidsterreine, groter beskerming teen hommeltuig- en kuberaanvalle benodig. Hy het Moskou daarvan beskuldig dat hulle probeer om Europeërs te intimideer en steun vir Oekraïne te verswak. Die minister van Binnelandse Sake van Frankryk het gesê alle relevante regeringsdienste en plaaslike owerhede sal gemobiliseer word om voor te berei vir die toenemende bedreiging.
# En laastens rugby: Die Springbokke en Fidji sal teen mekaar speel in hul laaste voorbereidingswedstryd voor die 2027 Rugbywêreldbeker-toernooi in Australië. Die toets vind op 18 September volgende jaar in Gosford, noord van Sydney, plaas, net meer as twee weke voor Suid-Afrika sy titelverdediging teen Italië begin. Dit is die twee lande se vierde ontmoeting, met Fidji wat in 2023 die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi bereik het. Rassie Erasmus sê Fidji is een van die top-10-spanne en ‘n kragtige laaste toets voor die toernooi begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….