Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan stemdag aankondig binne 15-dae na die staatsrede
# Die dodetal in die Hoërskool Riebeeckstad-busongeluk styg
# En, sokker: Bafana en Nigerië is gereed om hul wedywering te hervat
# Die Presidensie het bevestig president Cyril Ramaphosa sal stemdag binne 15-dae na môre se staatsrede bekend maak. ‘n Proklamasie sal volg kort na die aankondiging. Die woordvoerder, Vincent Magwenya, het op ‘n nuuskonferensie oor die president se weeklikse program die publiek verseker daar is geen vertragings nie en Ramaphosa is maar al te bewus daar moet ʼn tydperk van 90-dae verloop tussen die aankondiging en stemdag. Hy raai alle landsburgers aan om na môreaand se toespraak te luister:
# Die dodetal van leerders van die Hoërskool Riebeeckstad in die Vrystaat, wat gister in ‘n busongeluk betrokke was, het gestyg tot sewe. Die bus, waarop 58 meisies was wat van ‘n sportbyeenkoms teruggekeer het, het naby Ventersburg omgeslaan. Die bestuurder het glo beheer verloor nadat ‘n wiel losgeraak het op die R-70. Ongeveer 40 meisies het met geringe tot ernstige beserings oorleef en ontvang behandeling in verskeie hospitale in Welkom en Senekal. Die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, sê die voorval is betreurenswaardig.
# Vodacom beplan om die Konstitusionele Hof te nader nadat die Appèlhof gister beslis het hy moet nuwe vergoeding bepaal vir sy voormalige werknemer, Nkosana Makate, se “Please Call Me”-uitvindsel. Die hof het Vodacom beveel om ‘n nuwe aanbod te bepaal van vyf- tot 7,5-persent van die algehele inkomste van die produk oor die afgelope 18-jaar. Die uitvoerende hoof, Shameel Joosub, is beveel om die nuwe aanbod binne ‘n maand af te handel. Die hof het Joosub se bepaling van 47-miljoen-rand tersyde gestel, met Makate wat gesê het Vodacom het met sy uitvindsel sowat 70-miljard-rand verdien.
# Hamas het ‘n 135-dae wapenstilstand in Gaza voorgestel, met die volledige onttrekking van Israeliese magte. Dit is die militante organisasie se reaksie op ‘n skietstilstand-aanbod deur Israel, wat verlede week deur Katari en Egiptiese bemiddelaars saamgestel is en deur Amerika gesteun is. Hamas stel ook die vrylating van alle gyselaars voor, ‘n ooreenkoms om die oorlog te beëindig en die begin van die herbouing van die strook. Reuters berig daar was geen onmiddellike openbare reaksie van Israel nie, nadat hy vroeër gesê het hy sal in Gaza aanbly tot Hamas uitgewis is.
# Sokker: Suid-Afrika sal hul kontinentale wedywering met die driemalige Afrika-kampioen, Nigerië, voortsit in vanaand se halfeindstryd van die Afrikabeker-toernooi in die Ivoorkus. Die Wes-Afrikane het al drie hul vorige wedstryde gewen en hulle is tans die hoogste span op die ranglys wat oor is in die toernooi. Bafana Bafana het reeds met Marokko afgereken, nadat hulle die halfeind van die 2022 Wêreldbeker-toernooi gehaal het, en kaptein Ronwen Williams wil graag hierdie spelpeil voortsit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-63-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….