Nuus 14:00
BULLETIN 18 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die beweerde meesterbrein van die Tembisa-korrupsieskandaal kry ‘n belastingrekening van 1,9-miljard-rand
# Rusland gaan stembus toe in die eerste parlementêre verkiesing sedert die inval in Oekraïne
# En rugby: Die Springbokke sluit hul Wêreldbeker-voorbereiding af met ‘n wedstryd teen Fidji
# Die sakeman Hangwani Maumela, wat die middelpunt is van ‘n wyer ondersoek na beweerde korrupsie by die Tembisa-hospitaal in Gauteng, betwis ‘n belastingrekening van 1,9-miljard-rand. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens eis die geld van Maumela en die trustees van die MHR-familietrust. Die Spesiale Ondersoekeenheid het voorheen sy familietrust gekoppel aan beskermde bates wat by die ondersoek betrek word. Miljarde rand is betrokke by die ondersoek na beweerde verkrygingsbedrog by die hospitaal.
# Die United Democratic Movement gaan die Verkiesingshof nader oor die weglating van sy wyksraadkandidate in die Buffalo City-metro in die Oos-Kaap. Die party se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê hofstukke sal volgende week ingedien word om die Verkiesingskommissie se besluit te betwis nadat van sy kandidate nie op die finale lyste verskyn nie. Hy sê die party vra regsekerheid oor die teenstrydighede:
# Die vakverbond COSATU is bekommerd oor die nadele wat die Konstitusionele Hof-uitspraak oor die Wet op Openbare Verkryging kan inhou. Die wetgewing sou eenvormige reëls voorskryf oor die manier waarop regeringsinstellings, provinsies en munisipaliteite staatsgeld vir goedere en dienste gebruik. Die hof het bevind die Nasionale Vergadering het nie redelike openbare deelname toegelaat ná omvattende wysigings nie. Woordvoerder Matthew Parks sê COSATU ondersteun die bevordering van opkomende klein-, medium- en mikro-ondernemings:
Nuus uit die buiteland:
# Meer as 111 miljoen Russe stem die volgende drie dae in die land se eerste parlementêre verkiesing sedert sy volskaalse inval in Oekraïne in 2022. President Vladimir Putin hou dit voor as ‘n toets vir steun vir die oorlog, en daar word verwag dat die Verenigde Rusland-party sy oorheersende posisie sal behou. Die Poolse premier, Donald Tusk, het vroeër gewaarsku dat Rusland moontlik aanvalle op NAVO-lande beplan en dit dalk as ongelukke sal probeer verbloem. Die meeste kandidate wat teen die oorlog gekant is, is van die stembrief uitgesluit.
# Rugby: Die Springbokke sluit hul voorbereiding vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi af met ‘n toets teen Fidji op die Polytec-stadion in Gosford, noord van Sydney in Australië op 18 September. Dit sal slegs die vierde keer wees dat die twee nasies kragte meet. Springbok-afrigter Rassie Erasmus glo Fidji sal sy span presies die regte soort uitdaging bied wat nodig is voor hulle hul titel begin verdedig. Die Bokke gaan in Australië probeer om ʼn geskiedkundige derde agtereenvolgende titel te buit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-141-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-378-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….