Nuus 12:00
BULLETIN 18 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau is verras deur die Amerikaanse visumbeperkings voor sy vergadering met Marco Rubio
# COSATU in Gauteng vra mans om op te tree teen die voortdurende vrouemoorde in Ekurhuleni
# En rugby: Die Springbok-vrouespan wil ‘n sterk vertoning lewer teen Wallis
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Amerika se nuwe visumbeperkings op Suid-Afrika is ‘n verrassing. Dis gemik op diegene wat volgens Amerika rassediskriminasie, die aanhitsing van geweld of onteiening sonder vergoeding bevorder. Tau sê hy sal volgende week met die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, vergader. Hy beklemtoon die regering bly daartoe verbind om met Washington in gesprek te tree
# Die vakverbond COSATU in Gauteng veroordeel die onlangse moorde op vroue in Ekurhuleni ten sterkste en sê mans moet ‘n daadwerklike rol speel om die geweld te bekamp. Die liggame van nege vroue is die afgelope twee maande op verskeie plekke aan die Oos-rand aangetref, insluitend Kemptonpark, Olifantsfontein en KwaThema in Springs. Provinsiale voorsitter Amos Monyela sê vroue kan nie alleen die verantwoordelikheid dra om hulself teen geweld te beskerm nie.
# Die Security Personnel Party of South Africa gaan ‘n klagte by die Verkiesingskommissie indien oor die misbruik van staatshulpbronne vir party-politieke doeleindes. Die party beweer die ANC in Tshwane is van plan om metro-hulpbronne in Wyk 93 te gebruik in sy veldtog vir November se munisipale verkiesing. Woordvoerder Dimakatso Modipa sê munisipale hulpbronne behoort aan Tshwane se inwoners en moet openbare belang dien, nie die verkiesings-ambisies van enige politieke party nie.
# Rugby: Die kaptein van die Springbok-vrouespan, Babalwa Latsha, sê hul wedstrydplan sal die sleutel wees om Wallis vanaand te klop in hul eerste W-15-wêreldreekswedstryd op Cardiff Arms Park. Die twee lande het al agt keer teen mekaar gespeel en Wallis het ses keer gewen, insluitend in 2014 se Wêreldbekertoernooi. Latsha sê hulle het ‘n spesifieke plan en manier waarop hulle wil speel om Wallis se verwagte skopaanslag teen te staan:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-795-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-392-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die hernoemde Tutu-gedenkpark in Milnerton is nog ʼn manier waarop die metro wyle aartsbiskop Desmond Tutu en sy vrou, Leah, vereer. Die Lupin-singel-park waar Tutu en sy vrou dekades lank gewoon het, word verander in ʼn kindervriendelike ontspanningsgebied met ʼn hondepark, blomtuin en buitelug-amfiteater. Hill-Lewis sê die park sal binne ses maande omskep word en die aartsbiskop se lewenslange werk met kinders weerspieël:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….