Nuus 14:00
BULLETIN 17 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste onthul Thabo Bester het hom talle kere probeer kontak
# Ambassadeur Meyer sê Suid-Afrika wil onderhandelings met Amerika voortsit te midde van visumbeperkings
# En sokker: Italië verbied 16 ondersteuners van Roma oor ‘n fascistiese saluut
# Die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgala, sê pogings om amptenare te beïnvloed kan op verskillende vlakke van korrektiewe instellings plaasvind. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê die veroordeelde moordenaar en verkagter, Thabo Bester, het herhaaldelik probeer om sy aandag te trek. Thobakgala sê Bester se versoek is na formele klagtes- en verteenwoordigings-prosesse verwys. Hy sê regstreekse ontmoetings met gevangenes vind slegs plaas wanneer hulle inligting het wat amptenare betrek:
# Die Hooggeregshof in Polokwane in Limpopo het die 33-jarige prokureur, Charlotte Tibana, met onmiddellike ingang verbied om te praktiseer. Die Regspraktykraad het die dringende aansoek gebring te midde van bewerings van bedrog met trustrekenings. Tibana en haar man, die Tshwane-metropolisie-beampte Peter Nonyane, staan tereg op 43 aanklagte wat bedrog, diefstal en geldwassery insluit. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle meer as vier-miljoen-rand uit boedelrekeninge wanbestee het. ‘n Oudit word ook tans gedoen en die egpaar is reeds borgtog geweier.
# Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, sê die regering wil dialoog met Washington voortsit, selfs in ‘n moeilike diplomatieke tyd. Amerika het nuwe beperkings ingestel op persone wat volgens hom verantwoordelik is vir of medepligtig is aan beleid wat rasgegronde diskriminasie bevorder, dreigende geweld teen rasse- of etniese minderhede aanhits, of onteiening sonder vergoeding bemiddel in Suid-Afrika. Meyer het aan die SABC gesê die versterking van diplomatieke bande is belangrik:
# Oekraïnse amptenare sê minstens 26 mense, insluitend vier kinders, is oornag beseer tydens Russiese aanvalle op Kiëf, Odessa en ander streke. In Kiëf is 16 mense, onder wie twee kinders, gewond terwyl sewe mense, insluitend twee kinders, in Odessa beseer is toe ‘n missiel ‘n woonstelgebou getref het. ‘n Man van 64 is in ‘n aanval in die Sumi-streek dood. ‘n Oekraïnse hommeltuigaanval het ook ‘n brand in ‘n olieraffinadery in die Jaroslafl-streek in Rusland veroorsaak, maar dis later geblus.
# Sokker: Italië het 16 ondersteuners van AS Roma verbied om stadions reg oor die land te betree nadat hulle tydens ‘n Serie A-tuiswedstryd teen Atalanta die fascistiese saluut gemaak het. Die verbod, wat wissel van een tot vyf jaar, geld ook vir Roma se oorsese wedstryde en wedstryde van die nasionale span. Reuters berig die fascistiese saluut word nie uitdruklik in Italië verbied nie en howe beoordeel die gebaar van geval tot geval. Dit kan egter vervolg word kragtens wette wat die herlewing van die Fascistiese Party en die aanhitsing van rassehaat verbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-294-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-315-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….