Nuus 13:00
BULLETIN 17 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ambassadeur Meyer sê Suid-Afrika wil onderhandelings met Amerika voortsit te midde van visumbeperkings
# ‘n Organisasie bepleit waaksaamheid nadat ‘n negende vrou se liggaam in Ekurhuleni gevind is
# En krieket: Die Proteas en Zimbabwe se vroue pak mekaar in die voorlaaste T20 in Bulawayo
# Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, sê die regering wil dialoog met Washington voortsit, selfs in ‘n moeilike diplomatieke tyd. Amerika het nuwe beperkings ingestel op persone wat volgens hom verantwoordelik is vir of medepligtig is aan beleid wat rasgegronde diskriminasie bevorder, dreigende geweld teen rasse- of etniese minderhede aanhits, of onteiening sonder vergoeding bemiddel in Suid-Afrika. Meyer het aan die SABC gesê die versterking van diplomatieke bande is belangrik:
# Missing In Southern Africa veroordeel geslagsgeweld nadat ‘n negende vrou se liggaam in Ekurhuleni, Gauteng, ontdek is. Die organisasie sê die jongste voorval in Dawnpark volg op soortgelyke ontdekkings in gebiede soos Kemptonpark en KwaThema. Woordvoerder Priya Ranchod sê elke slagoffer verteenwoordig ‘n verpletterde gesin. Sy vra dat vermiste persone dringend aangemeld word, aangesien die eerste paar uur uiters belangrik is om leidrade te bekom en mense veilig op te spoor:
Intussen vra Women in Need president Cyril Ramaphosa om te sorg die klassifikasie van geslagsgeweld en vrouemoord tot ‘n nasionale ramp, lei tot dringende, meetbare en goed-befondsde optrede. Woordvoerder Dorothy Mabelebele sê die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing se ondersoek na geslagsgeweld en vrouemoord het bevind meer as 33-persent van Suid-Afrikaanse vroue het fisieke geweld ervaar en 9,8-persent seksuele geweld:
# Krieket: Suid-Afrika en Zimbabwe se vrouespanne speel vandag die voorlaaste van vyf T20-wedstryde in Bulawayo. Die besoekers het reeds die reeks beklink deur die eerste drie kragmetings te wen. Hulle het hul bure met ses paaltjies geklop in die eerste wedstryd en met 64 lopies in die tweede, waarna kaptein Laura Wolvaardt in die derde ‘n onoorwonne 126 gemoker en Suid-Afrika na ‘n oorwinning met 80 lopies gelei het. Die laaste wedstryd vind Sondag plaas voor die Proteas huis toe keer vir ‘n toets en witbalreekse teen Indië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-654-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-311-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Johannesburg is aangewys as ‘n finalis wat hoë lof ontvang het in ‘n kategorie van die Internasionale Vereniging van Tuinboukundige Produsente se Wêreld-groenstad-toekennings vir 2026. Die stad se vergroeningsprojek wat deur Stadsparke en die Dieretuin gelei word, is een van drie internasionale finaliste. Die besturende direkteur, Thanduxolo Mendrew, sê die program gee aandag aan geskiedkundige ongelykhede ten opsigte van toegang tot bome en groen ruimtes, terwyl dit ook die noodsaaklikheid beklemtoon om die verouderende boombedekking te beskerm en gesonder, klimaatbestande gemeenskappe te bou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….