Nuus 08:00
BULLETIN 17 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê Suid-Afrika sal nie gedwing word om sy transformasiewette prys te gee nie
# Nog ‘n Ekurhuleni-slagoffer is uitgeken
# En swem: Tatjana Smith keer terug na die swembad
# RISE Mzansi sê president Donald Trump van Amerika se poging om Suid-Afrika te dwing om van hervormingswette en grondwetlike orde ontslae te raak, moet verwerp word. Dit volg nadat die Trump-administrasie nuwe visumbeperkings ingestel het op mense in Suid-Afrika wat hy beskuldig van betrokkenheid by rasgebaseerde diskriminasie en grond-oorname sonder vergoeding. RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê die land se demokrasie en soewereiniteit moet gerespekteer en beskerm word:
# Die Nasionale Tesourie sê die regering sal seker maak Eskom se ontbondelingsproses word versigtig beplan en bestuur om alle risiko’s te hanteer. Die proses om eienaarskap en beheer van die kragverskaffer se netwerkbates aan ‘n onafhanklike transmissiestelsel-operateur oor te dra, gaan voort. Die operateur sal toesig hou oor die stelsel en bemarking, en die ontwikkeling van ʼn mededingende groothandel-elektrisiteitsmark. Die Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê die transaksie sal so gestruktureer word dat Eskom nie swakker daaraan toe is nie, die transmissie-entiteit finansieel volhoubaar is en die fiskale strategie op koers bly.
# Die polisie het die identiteit van die agtste vrou wie se liggaam in KwaThema in Springs aan die Oos-Rand gevind is, bekend gemaak. Sy is uitgeken as die 38-jarige Dineo Evelyn Motapane. Volgens die polisie is Motapane Sondag laas lewend gesien en teen die tyd wat haar liggaam ontdek is het haar familie haar nog nie as vermis aangemeld nie. Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi , sê die provinsie sal alles moontlik doen om die moordenaars van die vroue te vind en te straf:
# Die Amerikaanse Federale Reserwe het rentekoerse die eerste keer sedert 2023 verhoog om inflasie, wat bo sy teiken van twee-persent bly, te hanteer. Die federale raad het ʼn eenparige besluit geneem om die rentekoers met ʼn kwart persentasiepunt te verhoog na tussen 3,75-persent en vier-persent. Dit volg ten spyte van president Donald Trump se versoek dat rentekoerse verlaag word. Die raad se voorsitter, Kevin Warsh, sê drie dinge het sedert die Julie-vergadering verander: die ekonomie het versterk, inflasie het nie verlangsaam nie en geopolitieke spanning het toegeneem:
# Swem: Suid-Afrika se mees bekroonde Olimpiese swemmer, Tatjana Smith, maak ʼn terugkeer ná haar uittrede wanneer sy volgende week aan die Suid-Afrikaanse Kortbad-kampioenskap in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, deelneem. Die 29-jarige swemmer het in 2024 uit alle kompetisies getree nadat sy goud en silwer by die Olimpiese Spele in Parys gewen het. Smith sal in die 50-, 100- en 200-meter borsslag, en sommige aflosse meeding. Ander top-swemmers wat deelneem, sluit in Michael Houlie, Hannah Pearse, Georgia Nel, Guy Brooks en Chris Smith.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-418-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-285-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….