Nuus 18:00
BULLETIN 16 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê die ANC-hofuitspraak baan die weg vir verkiesingsvoorbereidings
# ‘n Wêreldbank-kenner sê keuringstelsels moet lande se spesifieke risiko’s weerspieël
# En, die Spesiale Ondersoekeenheid lê ‘n bedrieglike grondskema van 58-miljoen-rand in Ekurhuleni bloot
# Die Verkiesingskommissie het kennis geneem van die Verkiesingshof se verwerping van die ANC se appèl oor 181 raadslidkandidate wat uitgesluit is. Die kandidate sal nie aan die plaaslike verkiesing op 4 November deelneem nie, na die ANC die sperdatum gemis het en tegniese probleme met die OVK se elektroniese stelsel daarvoor blameer het; ‘n verduideliking wat die kommissie verwerp het. Die uitvoerende hoof van die OVK, Sy Mamabolo, sê die uitspraak verskaf duidelikheid oor wie geregtig is om deel te neem, en die kommissie sal voortgaan met die verkiesingstydrooster:
’n Senior spesialis in die finansiële sektor by die Wêreldbank, Laura Pop, het aan die Madlanga-kommissie gesê lande benodig keuringstelsels wat aangepas is by hul spesifieke risiko’s, instellings en uitdagings op die gebied van staatsbestuur. Pop het met verwysing na meer as ’n dekade se werk teen korrupsie in Oekraïne, Moldowa, Kenia en Albanië, gesê die modelle daar is uniek vir elke land en moet aangepas word by plaaslike omstandighede. Sy sê buitengewone integriteitsevaluerings kan dien as ’n manier om ’n nuwe begin te maak, wat help om wetstoepassingsinstellings te herbou en aanspreeklikheid te versterk:
# ‘n Ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bedrieglike grondskema van 58-miljoen-rand blootgelê wat verband hou met die oordrag van 208 munisipale erwe in Villa Liza naby Boksburg. Die ondersoek het bevind die erwe is tussen 2018 en 2022 sonder goedkeuring van die raad aan privaat individue oorgedra met vervalste belastingklaringsertifikate en volmagdokumente. Die hoof van die eenheid, Leonard Lekgetho, het op ‘n nuuskonferensie gesê die saak is verwys na die Nasionale Vervolgingsgesag vir moontlike vervolging:
# Die Departement van Elektrisiteit en Energie, die WNNR en die Wêreldbankgroep het ‘n strategiese raamwerk vir die ontwikkeling van aflandige windkrag in Suid-Afrika bekend gestel. Die bekendstelling was tydens die Afrika Groenwaterstof-beraad in Kaapstad. Adjunkminister Alexandra Abrahams sê Suid-Afrika se geografiese ligging sorg vir bestendige windtoestande langs die kus, wat geleenthede skep vir die ontwikkeling van hernubare energie. Sy voeg by die raamwerk vorm deel van studies oor aflandige windkrag wat die Wêreldbank laat doen het.
# Tennis: Die Amerikaanse Ope se mans-finaliste Alexander Zverev en Ben Shelton, is weer onmiddellik in aksie tydens die Davisbeker-kwalifiseringswedstryde. Die kampioen, Zverev, lei dié naweek Duitsland se kragmeting met Kroasië in Halle, terwyl Shelton hoop om Amerika te help om die Tsjeggiese Republiek in Praag te klop. Amerika sal sonder Taylor Fritz en Tommy Paul moet klaarkom, wat vervang word deur Learner Thien en die wêreld-nommer-104, Martin Damm, wie se pa in die Tsjeggiese Republiek gebore is. Agt spanne sal in November aan die eindronde van die spankompetisie deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-469-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-330-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 108-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….