Nuus 17:00
BULLETIN 16 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan teen die uitspraak van die Verkiesingshof oor 181 munisipale kandidate appelleer
# Die OVK diskwalifiseer meer as vyf-duisend kandidate na ‘n statutêre hersiening
# En, die Suid-Afrikaanse Sakekamer waarsku handelstoestande herstel, maar bly steeds taai
# Die ANC sê hy sal appelleer teen die uitspraak van die Verkiesingshof wat sy beswaar teen die uitsluiting van 181 kandidate in ses munisipaliteite voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November van die hand gewys het. Die party hou vol die kandidate se inligting was voor die sperdatum op die OVK se elektroniese stelsel ingevoer, maar die finale indiening is verhoed as gevolg van tegniese probleme. Mahlengi Bhengu van die ANC het lede en ondersteuners aangemoedig om kalm en gedissiplineerd te bly terwyl die regsproses voortduur:
Intussen het die Verkiesingskommissie meer as vyf-duisend kandidate gediskwalifiseer van vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing na ‘n statutêre hersieningsproses. Die diskwalifikasie het gevolg nadat nagegaan is of hulle behoorlik benoem en alle toepaslike deposito’s betaal is. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het aan die media gesê voorbereidings verloop volgens plan vir die verkiesing op 4 November:
# Die polisie het ‘n soektog op tou gesit na die voormalige SABC-sportaanbieder en sakeman Owen Ndlovu, wat na bewering voor ‘n kerk in Katlehong aan die Gautengse Oos-rand ontvoer is. Die polisie sê Ndlovu het sy vrou opgelaai toe drie gewapende mans die egpaar nader. Sy vrou is eenkant toe gestamp voordat die verdagtes Ndlovu in sy Ford Raptor gedwing en daarmee weggejaag het. Die voertuig is later verlate gevind, maar Ndlovu word steeds vermis. Die polisie ondersoek ‘n saak van ontvoering en kaping en vra mense met inligting om na vore te kom.
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid sê handelsomstandighede het in Julie en Augustus effens verbeter, maar bly uitdagend. SACCI meld dat sy aanwysers vir huidige toestande herstel het van 35 in Junie tot 42 in Augustus. Die kamer se uitvoerende hoof, Alan Mukoki, waarsku dat stygende ru-oliepryse sake-insetkoste kan verhoog en besteding kan raak. Intussen het verbruikersinflasie in Julie tot 4,3-persent verlangsaam. Mukoki sê verwagtinge vir die volgende ses maande bly positief, met die indiensnemingsaanwyser wat van 40 in April tot 64 in Augustus gestyg het.
# Rugby: Die Springbok-haker Marnus van der Merwe gaan sy debuut vir die Ierse span Munster maak in ‘n voorseisoen-wedstryd teen Leicester Tigers in Cork. Hy het gedurende die buiteseisoen by die Walliese span Scarlets aangesluit, maar ‘n kuitbesering het hom buite aksie gelaat. Van der Merwe het vir die Cheetahs gespeel voordat hy oorsee verhuis het. Hy het sedert sy debuut verlede jaar drie toetse vir Suid-Afrika gespeel. Alhoewel Van der Merwe tans nie op die Springbokke se radar is nie, hou die afrigter Rassie Erasmus blykbaar sy vordering in Ierland dop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-883-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-345-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 108-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….