Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum sê die ware toestand van die land is dat dit in ekonomiese krisis verkeer
# ActionSA eis tasbare planne vir nasionale vooruitgang
# En, krieket: Gelapte Proteas word oorskadu deur Nieu-Seeland
# Die Activists and Citizens Forum sê die ware stand van die land is dat dit in ‘n politieke en ekonomiese krisis verkeer. Die organisasie sê polities is die land leierloos, en ekonomies is die land in die intensiewe sorgeenheid. Die forum sê staatskaping en korrupsie het Suid-Afrika met verlammende beurtkrag gelaat wat alle elemente van die lewe ontwrig. Die woordvoerder, Dennis Bloem, sê baie ondernemings het die afgelope jaar hul deure gesluit, en miljoene werkers het hul werk verloor:
ActionSA sê intussen Suid-Afrikaners benodig ‘n regering wat werklike oplossings lewer om die land terug na welvaart te dryf. Hulle verwerp die vooruitsig van nog ‘n staatsrede vol leë beloftes. Die leier, Herman Mashaba, beweer president Cyril Ramaphosa se groot beloftes strook nie met die realiteit van burgers wat vandag slegter daaraan toe is as ses-jaar gelede nie. Mashaba het tydens ‘n toespraak die planne onthul om aandag aan die land se uitdagings te skenk en welvaart te herstel:
# Die Stad Kaapstad het opgetree teen die Kamal-CISCO-staalmeule en beveel dat dit onmiddellik gesluit moet word weens voortdurende klagtes van Kuilsrivier se inwoners oor vrystellings. Die woordvoerder van die stad, Jan Kruger, bevestig die meule het verlede November opdrag gekry om sy bedrywighede op te skort totdat die oorsaak van vrystellings geïdentifiseer en aangemeld is. ‘n Ondersoek deur die stad se Omgewingsgesondheids-inspekteur het aan die lig gebring dat nie voldoen word aan voorwaardes nie, soos uiteengesit in die Atmosferiese Vrystellings-lisensie, wat administratiewe bepalings en vrystellingsregulasies insluit.
# Krieket: ‘n Gelapte Proteas-span het moedig baklei vir vier dae, maar is oorskadu deur Nieu-Seeland in Mount Manganui. Nieu-Seeland het die Suid-Afrikaanse toetsspan, met ses nuwelinge, met 281 lopies verslaan in die eerste toets, om ‘n voorsprong van 1-0 te neem in die reeks van twee toetse. Die Proteas is die onmoontlike teiken van 529 gestel, maar is vir 247 uitgehaal met ‘n loopbaan-beste toetstelling van 87 vir David Bedingham. Hy verwag ‘n beter vertoning in die tweede en laaste toets wat Dinsdag in Hamilton begin:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-974-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-1-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Saartjie Baartman-sentrum vir Vroue en Kinders in Kaapstad herdenk 25 jaar van bystand aan 270-duisend oorlewendes van mishandeling. Direkteur Bernadine Bachar wys op die mislukking van die sektore vir strafreg en openbare gesondheid om diegene by te staan wat aanklop om hulp. Die sentrum bied opleiding in werksvaardighede, entrepreneursprogramme, berading en vroeë kinderontwikkelingsentra vir jong kinders. ‘n Tuisskoolsentrum is ook beskikbaar vir ouer kinders, regsbystand vir egskeidingsbevele en onderhoud, en verspreiding van kospakkies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….