Nuus 14:00
BULLETIN 16 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingshof verwerp die ANC se aansoek teen die OVK
# Missing in Southern Africa sê daar is geen wagtydperk om vermistes aan te meld nie
# En sokker: Messi speel in Oktober sy afskeids-wedstryd vir Argentinië
# Die ANC het sy saak in die Verkiesingshof teen die Onafhanklike Verkiesingskommissie verloor rakende die laat indiening van kandidatetlyste vir ses munisipaliteite voor die plaaslike regeringsverkiesing. Die hof het die ANC se betoog verwerp dat die besonderhede van die 181 betrokke benoemings steeds as finale kandidatelyste aanvaar moet word. Die hof het die DA toestemming gegee om tot die saak toe te tree, terwyl die African Transformation Movement se laat aansoek om toetrede van die hand gewys is. Daar was geen kostebevel nie.
# Die oorgrens-ondersteuningsnetwerk, Missing in Southern Africa, waarsku die publiek om vermiste persone onmiddellik aan te meld en sê daar is geen wagperiode van 24 uur ter sprake nie. Dit volg nadat agt vroue-liggame in en om Kemptonpark in Gauteng gevind is. Die netwerk se woordvoerder, Priya Ranchod, sê vroeë aanmelding van ‘n vermiste persoon is noodsaaklik om seker te maak die nodige soek- en reddingsprosesse begin so gou moontlik:
Die adjunkpresident en voorsitter van die Justisie-Misdaadvoorkomings- en Veiligheidsgroepering, Paul Mashatile, veroordeel die moorde. Hy het by president Cyril Ramaphosa aangesluit in solidariteit met die vroue en inwoners van Kemptonpark en omliggende gebiede. Hy sê geslagsgeweld hoort nie in gemeenskappe nie, en mans moet aan die voorpunt staan om sulke geweld te veroordeel:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldlughaweraad, wat meer as twee-duisend-200 lughawens verteenwoordig, vra ‘n wêreldwye hersiening van lughawens se stelsel vir die toewysing van lughawe-plekke wat landings en opstygings reguleer. Die raad sê die stelsel, wat meer as 50 jaar gelede ontwikkel is, voldoen nie meer aan die vereistes van moderne lugvaart nie. Hy waarsku dat die aantal oorlaaide lughawens die afgelope dekade met meer as 25-persent toegeneem het, terwyl verwag word dat passasiersverkeer die volgende 20-jaar byna sal verdubbel. Die raad dring daarop aan dat reguleerders deursigtigheid, mededinging en toegang verbeter.
# Sokker: Lionel Messi is ingesluit in Argentinië se groep van 28 vir die vriendskaplike wedstryd teen Benin in Buenos Aires op 6 Oktober. Dit sal sy laaste verskyning vir die nasionale span wees. Die 39-jarige speler het verlede maand sy uittrede uit internasionale sokker aangekondig ná sy land se nederlaag teen Spanje in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi. Messi hou die rekord vir die meeste doele en wedstryde vir Argentinië, met 125 doele in 207 kragmetings. Die Argentynse federasie se president, Claudio Tapia, sê Messi verdien ʼn onvergeetlike afskeid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-905-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-437-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….