Nuus 12:00
BULLETIN 16 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Forum for South Africa vra dringende optrede nadat nog ‘n vrou se liggaam in Ekurhuleni ontdek is
# Die Amerikaanse ambassadeur sê die tyd vir eindelose gesprekke is verby ná nuwe visumbeperkings
# En rugby: Die Springbok-afrigter sê spelerbestuur is noodsaaklik voor die eenmalige toets teen die Wallabies
# Forum for South Africa is diep bekommerd en woedend oor die ontdekking van nog ‘n vrou se liggaam in Ekurhuleni, Gauteng, wat die totaal in die omgewing van Kemptonpark op agt te staan bring. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, vra die onmiddellike aktivering van ‘n 72-uur-reaksieplan wat die polisie, waarnemende minister Firoz Cachalia, waarnemende kommissaris Puleng Dimpane en alle ander toepaslike wetstoepassings-agentskappe insluit:
Intussen het die polisie in Noordwes gewaarsku oor ‘n plasing op sosiale media wat beweer ‘n verdagte wat as die sogenaamde Kemptonparkse reeksmoordenaar beskryf word, het na Potchefstroom verhuis, wat tot ‘n uitgebreide polisie-operasie in die stad gelei het. Woordvoerder Adéle Myburgh sê die boodskap op sosiale media is nie ‘n amptelike polisie-waarskuwing nie:
# President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op die Staatsdienskommissie as wet bekragtig. Dit versterk die rol van die kommissie om grondwetlike waardes, professionele etiek en doeltreffende staatsadministrasie te bevorder. Dit laat die kommissie toe om as ‘n onafhanklike en onpartydige grondwetlike liggaam op te tree, met die doel om sy doeltreffendheid in die Staatsdiens te verbeter. Die Presidensie sê die kommissie se mandaat is om ʼn wye reeks gebruike in die Staatsdiens te monitor en te evalueer, en administratiewe prosesse en mislukkings in dienslewering te ondersoek.
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê die nuwe beleid oor visumbeperkings vir Suid-Afrikaners is die eerste stap in ‘n reeks maatreëls wat Amerika se vasberadenheid sal toon. Dis gemik op persone wat volgens Amerika verantwoordelik is vir die bevordering van rasgebaseerde diskriminasie, die aanhitsing van geweld teen Afrikaners en ander minderheidsgroepe, of die moontlike toepassing van onteiening sonder vergoeding. Bozell sê Amerika streef na sterk en volhoubare betrekkinge met die Suid-Afrikaanse regering, maar die regering het tot dusver min belangstelling getoon.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê spelerbestuur is van die uiterste belang te midde van die span se veeleisende reisprogram die afgelope paar weke. Die Bokke berei tans voor vir volgende naweek se eenmalige toets teen die Wallabies in Perth. Die span het gisteraand in Australië aangekom na hul reeks-oorwinning oor die All Blacks in Baltimore in Rugby’s Greatest Rivalry. Erasmus sê hulle gaan te staan kom teen ‘n vasberade Wallabie-span wat ‘n goeie vertoning voor hul tuisskare wil lewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-507-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-333-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….