Nuus 09:00
BULLETIN 16 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen ‘n beroep op die Verkiesingshof om teen die ANC te beslis
# COSATU se 15de nasionale kongres stort na twee dae in duie
# En die parlementêre komitee oor Polisie is bekommerd oor die moorde in Ekurhuleni
# Die DA sê die ANC se interne operasionele mislukkings moenie ‘n verskoning wees wat die party toelaat om die reëls vir indiening van kandidaatslyste voor die November-verkiesing te buig nie. Minstens 181 ANC-kandidate se name is nie voor die sperdatum van 28 Augustus op die Verkiesingskommissie se stelsel gelaai nie. Die party blameer ʼn tegniese probleem op die stelsel. Die DA se regspan het in die Kieshof aangevoer alle partye is gelyk voor die kommissie, en almal het geweet wanneer die spertyd en -datum was.
# Die vakbondfederasie COSATU se 15de nasionale kongres het misluk nadat dit gisteraand op die tweede dag van die byeenkoms in Midrand, Johannesburg, verdaag is. Die chaos is veroorsaak deur geskille oor geloofsbriewe, die regsstatus van die vakbondfederasie se eerste adjunkpresident, Mike Shingange, en vrae oor die kongres se wettigheid. Die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, sê COSATU moet die ruimte gegun word om sy interne verskille op te los:
# Die parlementêre Polisiekomitee sê die moorde op agt vroue in Ekurhuleni weerspieël Suid-Afrika se veel breër stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord. Die agt liggame is oor ‘n tydperk van twee maande in en om Kemptonpark gevind. Die polisie het reeds ‘n multidissiplinêre span bestaande uit spesialis-speurders, forensiese deskundiges, opsporingskundigheid, polisiehonde en ondersoekende sielkundiges saamgestel. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron, vra mense met inligting om na vore te kom:
# OpenAI se uitvoerende hoof, Sam Altman, sê die wêreld moet kunsmatige-intelligensiemaatskappye vertrou om die regte ding te doen omdat hulle die druk voel om verantwoordelik op te tree. Daar was die afgelope tyd toenemend kommer oor die tegnologie se moontlike gevare, en Anthropic se hoof, Dario Amodei, doen ʼn beroep dat alle KI-ontwikkeling verlangsaam word, terwyl hy regerings aanmoedig om die bedryf te reguleer. Altman het by ʼn konferensie in San Francisco erken mense het goeie rede om die gevare wat kunsmatige intelligensie inhou, te vrees:
# Krieket: Australië se toetsspan keer volgende maand die eerste keer weer na Suid-Afrika terug sedert die skuurpapier-skandaal van die 2017-18-seisoen, en die gewese Protea-kaptein, Graeme Smith, sê hulle gaan beslis daaraan herinner word. Kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft is geskors omdat hulle die bal met skuurpapier grof gemaak het tydens die derde toets in Kaapstad, wat Suid-Afrika uiteindelik met 322 lopies gewen het. Graeme Smith sê Australië kan nie wegkom van sy verlede nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-930-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-326-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….