Nuus 08:00
BULLETIN 16 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Verkiesingsdag sal ‘n openbare vakansiedag wees
# Die aanklagte teen generaal Fannie Masemola word teruggetrek
# En swem: Tatjana Smith sal die rente op haar prysgeld ontvang
# President Cyril Ramaphosa het 4 November 2026 as openbare vakansiedag verklaar. Altesaam 546 politieke partye sal op dié dag aan die plaaslikeregeringsverkiesing deelneem. Meer as 140-duisend kandidate is reg oor die land benoem om tien-duisend-526 raadsetels te betwis. Ramaphosa moedig alle geregistreerde kiesers aan om die vakansiedag te gebruik om hul demokratiese reg en burgerlike plig om te stem uit te oefen. Hy vra werkgewers om voorsiening te maak sodat werkers hul grondwetlike stemreg kan gebruik.
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, het opdrag gegee dat die aanklagte teen die geskorste Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, teruggetrek word. Hy is aangekla van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit hou verband met die omstrede Medicare24-tender van 228-miljoen-rand waarby die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala, betrokke is. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê Mothibi se besluit volg ná ‘n hersiening van die saak en bewyse deur die Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie:
# Die ANC veroordeel die sinnelose en grusame moorde op vroue in Kemptonpark, Ekurhuleni, en sê dit vestig aandag op die realiteit van geslagsgeweld en vrouemoorde in Suid-Afrika. Agt vermoorde vroue is die afgelope maande aan die Oos-Rand gevind. Die ANC sê die polisie moet die sake dringend ondersoek en die oortreders voor die gereg bring. Hy sê die nasionale reaksie moet verder strek as veroordeling, en vra volgehoue pogings tot voorkoming, polisiëring, ondersteuning aan oorlewendes, vervolging en aanspreeklikheid.
# Eerste minister Mark Carney sê Kanada wil ʼn uitsonderlike ekonomiese en veiligheidsalliansie met die Europese Unie aangaan. Ottawa wil sy ekonomiese afhanklikheid van die Verenigde State verminder nadat die handelsoorlog tussen dié twee lande die afgelope maand verskerp het. Sedert handelsgesprekke verlede maand skielik ineengestort het, probeer die twee lande mekaar, wat tariewe betref, in gelyke munt terugbetaal. Handel in goedere en dienste tussen die EU en Kanada het sedert 2016 met 80-persent gestyg. Carney sê meer as agt-duisend-miljard-rand se nuwe beleggings is aan Kanada beloof:
# Swem: Swem Suid-Afrika het ingestem om die volle rente aan die Olimpiese kampioen Tatjana Smith te betaal op prysgeld wat vir meer as ‘n jaar teruggehou is. Sy het nagenoeg 560-duisend-400-rand gewen nadat sy goud en silwer by die 2023 Watersport Wêreldkampioenskap in Japan verower het. Swem SA het die geld eers betaal na Smith se deelname aan die 2024 Olimpiese Spele in Parys. Die rente op die bedrag wat sou opgeloop het terwyl die geld in Swem SA se bankrekening was, is egter nie ingesluit nie. Smith se regsverteenwoordiger, Wian Spies, sê ‘n betalingsooreenkoms vir die rente is nou bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-804-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….