Nuus 07:00
BULLETIN 16 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdagte is gearresteer en daar word gesoek na ‘n persoon van belang in verband met die Ekurhuleni-moorde
# Die regering verkry ‘n lening van 16-miljard-rand om munisipale dienste te verbeter
# En atletiek: Kenia sal in 2029 die Wêreldkampioenskap vir die eerste keer in Afrika aanbied
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê ‘n verdagte is aangekeer in verband met een van die moorde wat in Julie in Kemptonpark, Ekurhuleni, gepleeg is en die polisie soek na nog ʼn persoon van belang. Agt vroue se liggame is die afgelope twee maande in die metro ontdek. Dimpane sê van die slagoffers is onbekend en sy vra families, veral in die Kemptonpark-gebied, om na vore te kom indien hulle weet van enige familielid wat verdwyn het:
Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê intussen hy vertrou dat almal wat verantwoordelik is vir die moorde op die agt vroue voor die reg gebring sal word. ʼn Multidissiplinêre, hoëvlak-polisiespan ondersoek die moorde en ʼn beloning van 400-duisend-rand word aangebied vir inligting wat tot ʼn deurbraak in die ondersoek kan lei. Lesufi sê Kemptonpark en omliggende gebiede gaan ingeperk word terwyl polisiesigbaarheid uitbrei:
# Die regering het ʼn leningsooreenkoms van 16,2-miljard-rand by die New Development Bank onderteken om infrastruktuur vir die Metropolitaanse Munisipale Dienste op te knap. Dit is deel van die Metro-handelsdienste-hervormingsprogram om die bestuur, finansiële volhoubaarheid en bedryfsprestasie van munisipale handelsdienste in metropolitaanse munisipaliteite te verbeter, veral wat water en sanitasie, elektrisiteit en energie, en vaste-afvalbestuur betref. Die Nasionale Tesourie sê dit is ʼn prestasie-gebaseerde lening en finansiering hang af van institusionele versterking en die bereiking van onafhanklik getoetste, meetbare prestasieteikens wat deur munisipaliteite goedgekeur is.
# Solidariteit het ‘n klag by die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling in Washington, DC, teen Amazon Web Services ingedien oor ‘n besigheidsontwikkelingsprogram wat vereis aansoekers moet 100-persent in swart besit wees. Dirk Hermann van die vakbond sê die vereiste is onregverdig want dit sluit ondernemings met enige wit eienaarskap uit en gaan verder as wat Suid-Afrikaanse wetgewing vereis. Hermann soek bemiddeling en wil hê Amazon moet die rasgebaseerde geskiktheidsvereiste verwyder:
# Die Verenigde Nasies sê die dodelike Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo versprei oor die land, ten spyte van ʼn mate van sukses om dit te beperk. Sewe-duisend-200 Ebola-gevalle is aangemeld en byna drie-duisend-500 mense is daaraan dood. Hierdie uitbreking is die tweede ergste op rekord. Die ergste was die een in Wes-Afrika wat van 2014 tot 2016 geduur het. Die VN se spesiale Ebola-koördineerder, Julien Harneis, sê die epidemie bly geweldig groot en dit sal maande duur om dit onder beheer te kry.
# Atletiek: Die Wêreldkampioenskap gaan in 2029 die eerste keer in Afrika gehou word wanneer dit in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, aangebied word. Wêreldatletiek het 2031 se byeenkoms aan München in Duitsland toegeken. Nairobi het in 2017 die Wêreld-onder-18-byeenkoms aangebied en vier jaar later die Onder-20-kampioenskap, maar sy bod teen Tokio in Japan verloor vir verlede jaar se senior byeenkoms. 2029 se kampioenskap sal op die Kasarani-stadion plaasvind, wat reeds opgeknap word vir volgende jaar se Afrikabeker-sokkertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-469-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-286-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 109-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….