Nuus 18:00
BULLETIN 15 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie sê die groenwaterstofekonomie word nou ‘n werklikheid
# Minister Pemmy Majodina vra om verskoning ná skeltaal-uitbarsting teenoor ’n inwoner van Kouga
# En, die Wes-Kaap teken ‘n afname in ernstige- en geweldsmisdaad aan
# Die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika se groenwaterstofekonomie het van die konsep- na die implementeringsfase beweeg. Ramokgopa, wat namens president Cyril Ramaphosa by die Africa Green Hydrogen beraad in Kaapstad gepraat het, het die eerste fase van die nasionale groenwaterstofprogram aangekondig. Die Saldanhabaai-projek het nou die groenlig as ‘n belegging gekry en verskaffingsooreenkomste is gesluit. Hy sê ses prioriteitsprojekte fokus op groen ammoniak, volhoubare lugvaartbrandstof en “groen” staal:
Intussen sê die hoofbestuurder vir Navorsing, Toetsing en Ontwikkeling by Eskom, Prudence Madiba, vroue moet beweeg van blote verteenwoordiging na betekenisvolle deelname aan die ontluikende groenwaterstof-ekonomie. Sy het tydens ‘n noenmaal in Kaapstad gepleit vir beter toegang tot finansiering, leierskap, verkrygingsgeleenthede en vaardigheidsontwikkeling. Madiba het ook mans aangemoedig om bondgenote en mentors te wees en vroue te help om leiding te neem, te vernuwe en geleenthede in die groenekonomie aan te gryp:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het om verskoning gevra omdat sy tydens ‘n onlangse openbare geleentheid in die Oos-Kaap vir ‘n inwoner van Kouga gevloek het. Majodina het in ‘n verklaring gesê sy het in die hitte van die oomblik gereageer, maar aanvaar verantwoordelikheid en betreur die gebruik van growwe taal. Sy het beklemtoon dat openbare verteenwoordigers onder druk steeds respek moet toon. Die DA en ActionSA het etiekklagte teen haar ingedien, terwyl AfriForum haar bedanking geëis het.
# Die Wes-Kaap het tussen April en Junie ‘n afname in verskeie ernstige misdade aangeteken. Kontakmisdaad het met 6,3-persent gedaal, moord met 6,7-persent, motorkapings met 14,6-persent en huisroof met 15-persent. Polisiestasies wat aan Operasie Prosper deelgeneem het, het beduidende afnames in misdaad aangeteken, met kontakmisdaad wat met 12,1-persent en moord wat met 16,8-persent gedaal het. Verkragting en seksuele aanranding het egter toegeneem. Die provinsiale polisiekommissaris, Sizakhele Dyantyi, sê die stryd teen geslagsgeweld en onwettige vuurwapens bly ‘n belangrike fokuspunt.
# Rugby: Die voormalige Ierse losskakel Ronan O’Gara sal tot 2031 as afrigter van die Franse span La Rochelle aanbly. Sy huidige kontrak verstryk die einde van die seisoen. Daar is voorheen bespiegel dat die 49-jarige na internasionale rugby sou oorbeweeg, maar hy sê hy en sy gesin is baie gelukkig om hul verblyf in Frankryk voort te sit. Hy het in 2019 by La Rochelle aangesluit en die span sedertdien na twee Kampioenebeker-titels en twee Top 14-eindstryde gelei. Die span is tans derde op die Top 14-punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-569-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-295-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 108-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….