Nuus 13:00
BULLETIN 15 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie is bekommerd oor die vrouemoorde in Kemptonpark
# SAFTU sê die dodetal op paaie is ‘n nasionale krisis
# En Amerika worstel met ‘n tekort aan ammunisie weens die duur oorlog in Iran
# Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, is ernstig bekommerd ná die ontdekking van vroueliggame in Kemptonpark, Gauteng. Hy sal vandag met die waarnemende nasionale kommissaris, Puleng Dimpane, en ondersoekspanne vergader vir ‘n uiteensetting van die bewyse wat ingesamel is. Cachalia sê hoewel daar vasgestel moet word of die sake met mekaar verband hou, vereis die saak dringende aandag. Woordvoerder Kamogelo Mogotsi vra enigiemand met inligting om na vore te kom:
Die Vryheidsfront Plus is ook diep bekommerd oor die aantal vroue wat in die omgewing vermoor is. Jaco Mulder van die party sê die vroue, wat glo oor die afgelope twee maande vermoor is, is gedeeltelik geklee aangetref, met ontstellende ooreenkomste tussen die gevalle. Hy verwelkom die polisie se multidissiplinêre taakspan, maar vra meer sigbare wetstoepassing langs die R21 en omliggende gebiede:
# Die vakbondfederasie SAFTU sê die naweek se noodlottige motorongelukke is ‘n herinnering aan die voortgesette nasionale padsterfte-krisis. ‘n Botsing tussen drie voertuie op die N1 tussen Prins Albertweg en Leeu-Gamka in die Wes-Kaap het 21 lewens geëis, terwyl agt mense dood is in ‘n botsing op die N17-tolpad naby Ermelo in Mpumalanga. Asive Dyani van SAFTU sê daar moet aanspreeklikheid wees vir nalatigheid, onveilige voertuie, uitermatige spoed of uitgeputte bestuurders:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Verslag van die Amerikaanse Departement van Verdediging se inspekteur-generaal toon Amerika se oorlog teen Iran het tussen 28 Februarie en 30 Junie na raming sowat 545-miljard-rand gekos. Net die koste van ammunisie het 364-miljard-rand beloop. Die verslag toon die hoë verbruik van ammunisie het tot tekorte in strategiese voorraadvlakke gelei en druk op die verdedigingsbedryf geplaas om die voorrade aan te vul. Die verslag toon ook omvangryke skade aan Amerikaanse diplomatieke sendings in Irak, Koeweit, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate weens Iranse aanvalle.
# Sokker: Real Madrid se afrigter, José Mourinho, sê die Turkse middelveldspeler Arda Guler is ‘n ongelooflike speler hoewel hy sukkel om gereeld speeltyd te kry. Hy het beïndruk sedert hy by Fenerbahce aangesluit het, maar die medediging is fel. Mourinho sê die 21-jarige beskik oor die talent om ‘n belangrike speler te word, maar dit sal tyd neem om ‘n plek los te speel in die ster-belaaide span. Ander Europese klubs stel in Guler belang, maar Mourinho glo hy kan homself by Real vestig indien hy aanhou ontwikkel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-825-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-267-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….