Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Tshwane het sy energie-onafhanklikheid bevorder met ‘n versoek vir inligting wat onafhanklike kragvervaardigers vir alternatiewe energie-oplossings teiken. Die versoek het ten doel om die energiemengsel by die Pretoria-Wes en Rooiwal-kragstasies te wysig om afhanklikheid van Eskom te verminder. Die raad het ‘n 40-jaar-huurkontrak vir die twee kragstasies goedgekeur, met die doel om binne drie-jaar een-duisend megawatt vanaf alternatiewe bronne te verkry om die uitwerking van beurtkrag te versag. Die versoek is beskikbaar op die stad en die Nasionale Tesourie se webwerwe.
# Brandbestryders in die Kaapse Wynland kon die Brandvlei-brand buite Worcester onder beheer bring, maar talle brandpunte en smeulende denne-stompe in die gebied word dopgehou. Die brandbestryders het gisteraand eiendom beskerm en verskeie brandlyne, insluitend in Baviaanshoek en Matroosberg, gemonitor. Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê geen skade is aangerig aan huise of die Brandvlei-gevangenis nie:
# En laastens: Die span van Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het begin met ‘n raadplegende proses vir die bestuursplan van die Robben-eiland Mariene-beskermde gebied. Die plan is daarop ingestel om die bewaringsvoetspoor van Suid-Afrika te vergroot en om by te dra tot die veilige bewaring van die land se oseane, eilande en kushabitatte. Dit wil ook biodiversiteit bewaar en beskerm, insluitende bedreigde seevoëls, soos die Afrika-pikkewyn en die Kaapse kormorant. Daarbenewens moet die plan ‘n geskikte omgewing vir navorsing en monitering verskaf, asook om omgewingsopvoeding te bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….