Nuus 09:00
BULLETIN 15 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê infrastruktuurbelegging is belangrik vir ekonomiese groei
# Die Workers and Socialist Party sê die SAKP se verkiesingsveldtog verteenwoordig ANC-beleid
# En die Amerikaanse minderheidsleier vra vir onmiddellike regulering van kunsmatige intelligensie deur die Kongres
# Die minister van Finansies Enoch Godongwana sê hoër vlakke van infrastruktuurbelegging staan sentraal in die verbetering van die voortgesette lae vlakke van ekonomiese groei. Suid-Afrika se bruto binnelalndse produk het in die tweede kwartaal vanjaar met 0,2-persent gedaal. Die regering beoog om oor die volgende drie jaar een-duisend-miljard-rand regstreeks in die infrastruktuur te belê en terselfdertyd die privaat sektor te betrek om met netwerkontwikkeling, logistiek en water te help. Godongwana sê die agterstand in die infrastruktuurgeleenthede is nie hoofsaaklik weens finansiële redes nie, maar die vermoë om te implementeer.
# Die Workers and Socialist Party sê die Suid-Afrikaanse Kommunistiewe Party se besluit om onafhanklik aan die komende plaaslike verkiesing deel te neem, is ‘n stap in die regte rigting. Die party waarsku egter die SAKP se voortgesette deelname aan die Drieparty-alliansie met die ANC is tans die grootste struikelblok vir eenheid binne die werkersklas. Mametlwe Sebei van die Workers and Socialist Party sê die SAKP se verkiesingsplatforms verteenwoordig nouliks enige radikale breuk met die ANC se huidige beleid:
# Die DA sê die Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya se eensydige besluit om elektrisiteit af te sny na ‘n reservoir in Centurion, wat aan Johannesburg Water behoort, is roekeloos en onverantwoordelik. Dit volg op uitstaande skuld van 62-miljoen-rand. Die afsluiting is deel van die metro se deurlopende “Tshwane Ya Tima”-inkomstevorderingsveldtog, wat gemik is op kliënte wat nie betaal nie, insluitend staatsinstellings. Stephen Moore van die DA sê dit gaan nie oor die noodsaak dat skuld aan Tshwane vereffen moet word nie, maar oor Moya se roekelose inmenging met ‘n infrastruktuurstelsel wat reeds onder druk verkeer:
# Die Amerikaanse minderheidsleier, Hakeem Jeffries. het ‘n beroep op die Kongres gedoen om stappe te doen om kunsmatige intelligensie te beheer. Hy sê die welstand van Amerikaners moet beskerm word. Dis te midde van topleiers in die KI-bedryf wat ‘n versigtiger benadering in die ontwikkeling van die tegnologie aanmoedig en waarsku dit kan menslikheid uitwis as dit nie dopgehou word nie. Jeffries sê Amerikaners moet die voordele van kunsmatige intelligensie benut sonder om onderwerp te word aan die baie werklike en gevaarlike nadelige aspekte:
# Sokker: Suid-Afrika het vier klubs in die tweede ronde van die Afrika-klubkompetisie ná oorwinnings die afgelope naweek vir Orlando Pirates en Durban City. Die verdedigende Afrika-kampioene, Mamelodi Sundowns, en Kaizer Chiefs het reeds ‘n vrypas tot die tweede ronde gekry. Pirates LP, speel teen Namibië se African Stars, terwyl Sundowns in die Kampioeneliga teen Angola se Wiliete speel. In die Konfederasiebeker pak Chiefs die Zambiese Red Arrows, en Durban City kom teen die klub AS Port Louis 2000 uit Mauritius te staan. Die wedstryde in die tweede ronde sal bepaal watter spanne in November die groepfases bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-618-dollar. Die prys van goud is vierduisend-303-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….