Nuus 08:00
BULLETIN 15 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kommissaris van die Inkomstediens sê Suid-Afrika se belastingstelsel bly bestendig en veerkragtig
# Die Amerikaanse Hooggeregshof keer Trump se beperkings op posstemme
# En atletiek: Wêreld Atletiek handhaaf sy verbod op Rusland en Belarus
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, doktor Johnstone Makhubu, sê die land se fiskale toekoms hang af van ‘n betroubare belastingadministrasie wat ondersteun word deur bekwame mense, intelligente stelsels, volhoubare belegging en sterk vennootskappe. Hy het gister tydens sy toespraak by die Belastingindaba in Johannesburg gesê Suid-Afrika se belastingstelsel is fundamenteel gesond en steeds veerkragtig. Makhubu het beklemtoon die toekomstige sukses van die belastingstelsel word deur sleutelprioriteite bepaal, insluitend die verkryging van volhoubare finansiering en vinniger modernisering:
# Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie SAFTU sê die land handhaaf wêreldwyd steeds die hoogste vlakke van geweld teen vroue, maar te veel oortreders glo hulle kan sonder enige gevolge optree. Die dood van vyf vroue in en om Kemptonpark in Ekurhuleni word steeds ondersoek, nadat hulle liggame vroeër gevind is. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê geslagsgeweld en vrouemoord is nie geïsoleerde misdade nie, maar simptome van ‘n veel dieper maatskaplike krisis:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad in die Wes-Kaap maan die publiek om nie oor die oorsaak van die dodelike ongeluk op die N1 te bespiegel of skuldiges uit te wys voor die feite bepaal is nie. Een-en-twintig mense is dood na ‘n botsing tussen twee minibus-taxi’s en ‘n stasiewa tussen Prins Albert-weg en Leeu-Gamka. Die provinsiale voorsitter van SANTACO, Besuthu Ndungane, sê hierdie tragedie is ‘n pynlike herinnering dat elke reis die verantwoordelikheid meebring om lewens te beskerm:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het president Donald Trump se plan verwerp om posstemme te beperk tot goedgekeurde kiesers vir die November-tussenverkiesing. Trump het in ‘n uitvoerende bevel in Maart aangevoer die verandering sal help om verkiesingsbedrog te bestry. Regter Brett Kavanaugh het in sy uitspraak gesê die toepassing van die reël in die tussenverkiesing sal arbitrêr wees omdat staats- en plaaslike verkiesingsbeamptes nie genoeg tyd het om die reël redelikerwys voor die verkiesings te implementeer nie. In die 2024-algemene verkiesing het nagenoeg 30-persent van die kiesers per pos gestem.
# Atletiek: Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, sê die beheerliggaam sal nie sy standpunt oor Rusland en Belarus verander nie. Wêreldatletiek het in Julie aangekondig die verbod op Russiese en Belarussiese atlete, wat in Maart 2022 ingestel is en hulle verhoed om aan internasionale kompetisies deel te neem, bly van krag. Die Russiese Atletiekfederasie het verlede maand ‘n nuwe appèl by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie ingedien om Wêreldatletiek se sanksies te betwis. Coe sê hulle erken wel die belangrikheid daarvan om uiteindelik volle wêreldwye deelname aan die sport te herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-782-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-312-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….