Nuus 14:00
BULLETIN 14 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lucas Legabe kry borgtog van 50-duisend-rand in die Valke se kokaïensaak
# Swede se verkiesingsuitslag is nog onvoorspelbaar
# En tennis: Elena Rybakina is amptelik die wêreld-nommer-een en Marta Kostyuk maak haar toptien-buiging
# ‘n Sakeman van Tshwane, Lucas Legabe, is 50-duisend-rand borgtog toegestaan in die Landdroshof in Port Shepstone, KwaZulu-Natal. Hy was na bewering deel van ‘n groep wat in 2021 by die Valke se kantore ingebreek en 541-kilogram kokaïen van sowat 216-miljoen-rand gesteel het. Die 49-jarige staan tereg op aanklag van huisbraak en dwelmhandel. Legabe is op 7 Augustus aangekeer, maar hou vol hy was geensins betrokke by die beweerde diefstal nie.
# Oudpresident Kgalema Motlanthe sê Suid-Afrika moet sy demokratiese proses ten volle verwesenlik, met grondhervorming wat steeds ‘n kernvraag is. Hy het op die tweede professor Stan Sangweni-gedenklesing in Pretoria besin oor Sangweni se kommer rakende die onvoltooide taak van ekonomiese bevryding. Motlanthe moedig jonger geslagte aan om hervorming voort te sit en beklemtoon Sangweni se kommer oor politieke inmenging in die Staatsdiens:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Vervoer, Isaac Sileku, het sy meegevoel betuig met die naasbestaandes van 21 mense wat dood is in ‘n botsing op die N1 tussen Prins Albertweg en Leeu-Gama. Die LUR vir Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, sê ook sy hou die gesinne in haar gedagtes. Sileku, wat die toneel vanoggend besoek het, sê dis ‘n verskriklike lewensverlies. Hy het die noodspanne bedank wat onder moeilike omstandighede werk:
Nuus uit die buiteland:
# Swede se sentrum-linkse opposisie het ‘n geringe voorsprong in die parlementsverkiesing, maar die uitslag is nog onvoorspelbaar. Die groepering van die sosiaal-demokratiese Magdalena Andersson sal na verwagting 176 setels wen en die regse groepering van premier Ulf Kristersson 173. Sekere stemme, insluitend dié wat in die buiteland uitgebring is, word nog getel. Andersson sê haar span loop voor, maar sy het nog nie die oorwinning opgeëis nie. Kristersson gaan met ander partyleiers gesels oor moontlike koalisies indien die regse kamp steeds in die wedloop is.
# Tennis: Elena Rybakina van Kazakhstan is die eerste keer amptelik die wêreld-nommer-een-vrouespeler. Die 27-jarige het die mylpaal in die halfeindronde van die Amerikaanse Ope bereik, waarna sy die tweemalige verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, in die eindstryd geklop en die posisie by haar oorgeneem het. Die Amerikaners Jessica Pegula en Coco Gauff is derde en vierde en die Russiese tiener Mirra Andreeva vyfde. Marta Kostyuk van Oekraïne het haar buiging in die top-tien gemaak nadat sy tot die ronde van 16 in New York gevorder het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-951-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-287-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….