Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbokke het hul hoogste puntetotaal ooit op die wêreldranglys bereik ná hul sege van 43-28 oor die All Blacks in Baltimore. Die oorwinning het die reeks 3-1 beklink en aan Suid-Afrika nog 0,75 ranglyspunte besorg. Hul voorsprong boaan die wêreldranglys is nou verder vergroot met ‘n totale puntetelling van 95,09. Dit is die Bokke se hoogste totaal sedert die ranglys in 2003 ingestel is. Nieu-Seeland is steeds tweede, met Ierland derde, Frankryk vierde en Engeland vyfde.
# Krieket: Die Proteas het hulle heel eerste eendagreeks teen Namibië 3-0 beklink met ‘n oorwinning met nege paaltjies in die laaste kragmeting in Windhoek. Die tuisspan is vir 156 uitgeknikker nadat die waarnemende kaptein, Björn Fortuin, vier paaltjies geneem het. Hierna het Jordan Hermann die beste gevaar met 77 van 59 balle, terwyl Connor Esterhuizen stewige ondersteuning gebied het met ‘n onoorwonne 68 van 68 balle. Die Proteas het die teiken binne 22 boulbeurte bereik.
# Motorsport: Mercedes se renjaer, Kimi Antonelli, het die Spaanse Grand Prix gewen en sy voorsprong in die Formule Een-bestuurderskampioenskap vergroot met nege wedrenne oor. Die Italianer het voordeel getrek nadat Lando Norris van McLaren in die kuipe moes stop, en sy agtste oorwinning van die seisoen behaal. Red Bull se renjaer, Max Verstappen, was tweede, Norris derde en Charles Leclerc van Ferrari vierde. Antonelli is nou 81 punte voor sy spanmaat, George Russell, wat vyfde was, en 101 punte voor Ferrari se renjaer, Lewis Hamilton, wat vroeg weens remprobleme moes onttrek.
# Gholf: Die tuisgunsteling, Shane Lowry, het ‘n rekordoorwinning van elf houe op die Ierse Ope behaal. Die 39-jarige het op 23 onder baansyfer geëindig vir sy sewende loopbaantitel en tweede Ierse Ope-oorwinning. Die Amerikaner Patrick Reed en Joaquin Niemann van Chili was saam tweede op 12 onder. Die verdedigende kampioen, Rory McIlroy van Noord-Ierland, was gesamentlik 41ste, 22 houe agter die wenner. Lowry het sy oorwinning as skouspelagtig beskryf:
# En laastens, tennis: Die topgekeurde Alexander Zverev het die plaaslike gunsteling, die agste-gekeurde Ben Shelton, geklop en sy eerste Amerikaanse Ope-titel gebuit. Dit het die Duitser sy tweede Grand Slam-titel besorg. Die 29-jarige is slegs die vierde man in die Ope-geskiedenis wat in dieselfde seisoen sy eerste twee Grand Slam-titels wen nadat hy in Junie ook op Roland Garros koning gekraai het. Zverev sê 2026 is sy suksesjaar ná jare se gesukkel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….