Nuus 11:00
BULLETIN 14 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Botsing op die N1 in die Wes-Kaap eis 18 lewens
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se BRICS-lidmaatskap het groot voordele
# En rugby: Die Springbokke behaal hulle hoogste punte in die geskiedenis van die Wêreldrugby-ranglys
# Agtien mense is dood in ‘n botsing op die N1 tussen Prins Albertweg en Leeu-Gamka in die Wes-Kaap. Twee minibustaxi’s en ʼn stasiewa was in die ongeluk betrokke. Drie mense is ernstig beseer. Die Departement van Beweeglikheid se woordvoerder, Muneera Allie, sê die N1 bly in albei rigtings gesluit. Sy het motoriste aangeraai om die alternatiewe roete te gebruik oor Prins Albertweg-stasie, die R407 na die N12, en dan na Beaufort-Wes:
# President Cyril Ramaphosa sê BRICS is ‘n belangrike platform vir Suid-Afrika om politieke en ekonomiese bande tot voordeel van die land en sy burgers te ontwikkel. Hy het die naweek die 18de BRICS-beraad in Nieu-Delhi, Indië, bygewoon. Ramaphopsa het in sy weeklikse nuusbrief klem gelê op belegging en handel terwyl BRICS-lande meer as ‘n vyfde van die land se handelsvennote verteenwoordig. Hy sê Suid-Afrika sal voortgaan om sy stem te voeg by die groeiende oproep vir ‘n inklusiewe wêreldorde op grond van wedersydse respek en gedeelde welvaart.
# Soil of Africa sê Suid-Afrika het nie net ‘n winsgewende Transnet nodig nie, maar een wat ‘n sterker rol speel in ekonomiese groei. Transnet het einde Maart 4,6-miljard-rand se wins aangeteken teenoor die vorige boekjaar se netto-verlies van 1,9-miljard-rand. Woordvoerder Luzuko Sofute sê egter ‘n sterker logistieke stelsel is noodsaaklik om plaaslike ondernemings te help om internasionaal mee te ding en te verseker dat Transnet betekenisvol tot die breër ekonomie bydra:
# President Donald Trump van Amerika verwerp toenemende kommer oor kunsmatige intelligensie en sê dit gaan meer goed doen as kwaad. ‘n Leier in die K-I-wedloop, Anthropic se uitvoerende hoof, Dario Amodei, waarsku dit ontwikkel so vinnig dat dit beter kan raak as die mens se vermoë om dit te bestuur. Trump erken die behoefte aan regulering, maar is meer bekommerd dat Amerika sy voorsprong in KI-mededinging aan China gaan afstaan:
# Rugby: Die Springbokke het hul hoogste puntetotaal ooit op die wêreldranglys bereik ná hul sege van 43-28 oor die All Blacks in Baltimore. Die oorwinning het die reeks met 3-1 beklink en aan Suid-Afrika nog 0,75 ranglyspunte besorg. Hul voorsprong boaan die wêreldranglys is nou verder vergroot met ‘n algehele puntetelling van 95,09. Dit is die Bokke se hoogste totaal sedert die ranglys in 2003 ingestel is. Nieu-Seeland is steeds tweede, met Ierland derde, Frankryk vierde en Engeland vyfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-608-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-321-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….