Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Lebogang Maile, het die besluit om 1,13-miljard-rand aan onafhanklike skole te bestee, verdedig. Hy sê die Grondwet maak daarvoor voorsiening.
# En die Netwerk24-webblad:
Het meestal nog berigte van Rapport op sy webblad, maar skryf oor die moontlikheid van ‘n reeksmoordenaar in die Kemptonpark-omgewing nadat die liggame van vier vroue gevind is.
En tweedens berig die webblad ‘n vermeende stroper is dood nadat hy in die pad van ‘n trop olifante beland het in die Krugerwildtuin.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Gautengse polisie het saam met ander wetstoepassingsagentskappe oor die naweek een-duisend-154 verdagtes in hegtenis geneem tydens ‘n veldtog teen misdaad in die provinsie. Honderde verdagtes is aangehou vir ernstige misdade, dronkbestuur en oortredings van immigrasiewetgewing. Die optrede vorm deel van Operasie Shanela II.
# En Sowetan:
Berig die inwoners van Kemptonpark lewe in vrees ná gerugte van ‘n reeksmoordenaar in die gebied. Die koerant skryf daar is ernstige kommer oor Elizabeth Moselakgomo se veiligheid nadat sy verlede week in Rhodesfield gaan draf het en nie teruggekeer het huis toe nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor Lisa-Lodene Smith wat op 8 September op hul plaas by Nieuwoudtville deur ‘n bul gegaffel en deurboor is. Smith, ook bekend as Boervrousmithie, is 20 weke swanger, maar haar baba het ongedeerd daarvan afgekom.
En tweedens skryf die koerant tot Donderdag wag daar reën, hael en koue weer op Kapenaars.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai gaan sukkel om die beplande Wêreld Lewensreddingkampioenskap aan te bied. Die werk aan die Newtonpark-swemsentrum is nou vir eers gestaak. Die kampioenskap is geskeduleer vir 25 November tot 13 Desember.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar gaan leefstyloudits op al die raadslede van die Msunduzi-munisipaliteit gedoen word.
En tweedens berig die koerant oor Celine Dion se merkwaardige terugkeer na die verhoog.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se toenemende huishoudelike skuld word glo deur ’n inkomstekrisis aangevuur, met talle Namibiërs wat sukkel om basiese lewenskoste te dek sonder om geld te leen. Die Bankiersvereniging sê daar is ‘n reusetekort aan finansiële geletterdheid en dissipline.
En tweedens skryf die koerant die tender vir die nuwe veterinêre grensheining in die Suide beland Donderdag in die hof.