Nuus 07:00
BULLETIN 14 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula bevraagteken Andile Lungisa se hofsaak teen die ANC
# ‘n Taakspan sal ’n moontlike verband tussen die moorde op vier vroue in Kemptonpark ondersoek
# En Trump vra Zelensky om aanvalle op Russiese dieselraffinaderye te staak
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die Nasionale Uitvoerende Komitee-lid, Andile Lungisa, se regsaak teen die party bevraagteken. Dit volg nadat Lungisa se naam verwyder is van die komende plaaslikeregeringsverkiesing se lys proporsionele verteenwoordigers in die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap. Talle kandidate in ses munisipaliteite in die provinsie is ook uitgesluit nadat die ANC die Verkiesingskommissie se sperdatum misgeloop het. Volgens Lungisa het Mbalula persoonlik opdrag gee dat sy naam verwyder word. Mbalula sê Lungisa weet hoe om hierdie soort kwessies te hanteer.
# Die DA het teruggekap teen die ANC se kritiek op die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en bewerings van politieke inmenging verwerp. Jan de Villiers van die DA sê minister Gwarube doen haar werk deur ondersoek in te stel na kwessies oor bestuur, die beskerming van openbare fondse en toe te sien dat handboeke in 2027 die klaskamers bereik. Hy verwerp ook die ANC se bewering dat Gwarube die verkryging van handboeke gestaak het:
# Die MK-party het volgens berigte ‘n finansiële krisis wat kan verhoed dat hy sy manifes voor die plaaslikeregeringsverkiesing in November bekendstel. Senior partylede het aan die Sunday Times gesê die party se finansiële probleme het vererger nadat die finansiële beheer gesentraliseer is. In Julie het die president van die party, Jacob Zuma, finansiële beheer oorgeneem nadat hy alle ondertekeningsbevoegdhede van alle partyamptenare ingetrek het. In die binnekringe word gevrees dat die party nie ‘n verkiesingsveldtog sal kan voer nie.
# Die waarnemende polisiekommissaris, Fred Kekana, sê ‘n multidissiplinêre taakspan is aangewys om ʼn moontlike verband te ondersoek nadat die liggame van vier vroue in Kemptonpark aan die Oos-Rand gevind is. Die eerste slagoffer, ʼn 37-jarige vrou, se naakte liggaam is op 15 Julie naby die R-21 gekry. Die tweede slagoffer, ʼn 32-jarige vrou, is op 24 Augustus ontdek. Die liggaam van ʼn ongeïdentifiseerde vrou in ʼn gevorderde staat van ontbinding is op 10 September opgespoor. Kekana sê die vierde liggaam is op 12 September gevind:
# President Donald Trump van Amerika het sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodymyr Zelensky, gevra om aanvalle op Russiese diesel-raffinaderye te staak en sê dit veroorsaak ʼn wêreldwye tekort. Kiëf val Moskou se olie- en gasbedryf met langafstand-wapens aan, wat gelei het tot rantsoenering en dat Moskou in Julie diesel-uitvoere verbied het. Rusland het die afgelope weke sy lugaanvalle verskerp, en gebruik ballistiese missiele en straal-aangedrewe hommeltuie om Oekraïne se kragnetwerk te teiken. Trump sê daar is baie ander teikens wat Zelensky kan tref:
# Motorsport: Die Mercedes-renjaer, Kimi Antonelli, het die Spaanse Grand Prix gewen en met nege wedrenne oor, sy voorsprong in die bestuurderskampioenskap vergroot. Die Italianer het voordeel getrek nadat Lando Norris van McLaren in die kuipe moes stop, en sy agtste oorwinning van die seisoen behaal. Red Bull-renjaer Max Verstappen is tweede, Norris is derde en Charles Leclerc van Ferrari is vierde. Antonelli is nou 81 punte voor sy spanmaat, George Russell, wat vyfde is en 101 punte voor Ferrari-renjaer, Lewis Hamilton, wat vroeg weens remprobleme moes onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-827-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-344-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….