Nuus 06:00
BULLETIN 14 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê kunsmatige intelligensie kan tot ‘n nuwe era van produktiwiteit lei
# Die MK-party het volgens berigte finansiële probleme
# En krieket: Die Proteas maak skoonskip teen Namibië
# President Cyril Ramaphosa sê kunsmatige intelligensie kan ‘n nuwe era van produktiwiteit en menslike vooruitgang inlui, maar waarsku teen ernstige risiko’s indien gevorderde stelsels menslike beheer sou ontsnap. Ramaphosa het tydens die BRICS-leiersberaad in Nieu-Delhi, Indië, gesê die bedreigings sluit in gevorderde kuberaanvalle, die ontwikkeling van biologiese wapens, massa-waarneming, werksverliese en moeilik beheerbare outonome stelsels. Hy sê mense moet nie bang wees vir kunsmatige intelligensie nie en nie roekeloos daarmee werk nie:
Ramaphosa sê ook meer gereelde en hewiger klimaatsrampe dreig om swaarverdiende ontwikkelingsvordering ongedaan te maak en ongelykheid te vererger. Ramaphosa het gesê die bou van veerkragtigheid is noodsaaklik vir inklusiewe groei en menslike ontwikkeling. Hy het Indië geprys omdat hulle veerkragtigheid eerste stel en gesê dit strook met die doelwitte vir die vermindering van ramprisiko’s wat tydens Suid-Afrika se G20-presidentskap bevorder is:
# Die MK-party het volgens berigte ‘n finansiële krisis wat kan verhoed dat hy sy manifes voor die plaaslikeregeringsverkiesing in November bekendstel. Senior partylede het aan die Sunday Times gesê die party se finansiële probleme het vererger nadat die finansiële beheer gesentraliseer is. In Julie het die president van die party, Jacob Zuma, finansiële beheer oorgeneem nadat hy alle ondertekeningsbevoegdhede van alle partyamptenare ingetrek het. In die binnekringe word gevrees dat die party nie ‘n verkiesingsveldtog sal kan voer nie.
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het die intimidasie, dreigemente en afpersing binne die taxibedryf veroordeel. Die departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê lede van die bedryf word geteiken deur individue wat vrees, dwang en onwettige invloed gebruik om hul eie belange te bevorder. Hy sê die saak is na die provinsiale taxitaakspan verwys. Hy sê alle belanghebbendes in die taxibedryf moet onmiddellik ophou met intimidasie, afpersing, dreigemente, geweld en enige ander vorm van onwettige optrede:
# Iranse amptenare sal vandag die Straat van Hormoes met amptenare van Irak en die Golfstate bespreek. Teheran onderhandel met Oman – wat die teenoorgestelde oewer van die straat beheer – oor ‘n ooreenkoms wat skeepvaart sou reguleer. Ongeveer ‘n vyfde van die wêreld se olievoorrade het deur die straat beweeg voordat die VSA-Israel-oorlog teen Iran in Februarie begin het, wat tot hoër oliekoste gelei het. Die Iranse ministerie van Buitelandse Sake sê Teheran bly daartoe verbind om die veiligheid van skeepvaart in die straat te verseker.
# Krieket: Die Proteas het gemaklik die derde en laaste eendagwedstryd teen Namibië met nege paaltjies in Windhoek gewen en só skoonskip gemaak met 3-0 in die eerste eendagreeks ooit tussen die twee spanne. Die tuisspan is vir 156 lopies uitgeknikker, met die waarnemende kaptein Bjorn Fortuin wat presteer het onder die Suid-Afrikaanse boulers deur vier paaltjies te neem. Hierna het Jordan Hermann die voortou geneem met 77 lopies van 59 balle, terwyl Connor Esterhuizen stewige ondersteuning gebied het met ‘n onoorwonne 68 lopies teen ‘n tempo van een lopie per bal. Die Proteas het die teiken binne 22 boulbeurte bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-729-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-335-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 109-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….