Nuus 09:00
BULLETIN 13 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op BRICS om die multilaterale orde te versterk
# Die Parlement bevestig ’n onwettige betreding
# En rugby: Die Griekwas behou die Curriebeker in Kimberley
# President Cyril Ramaphosa het BRICS-lande gevra om multilateralisme te versterk deur middel van betekenisvolle hervorming en gesamentlike optrede. Hy het gepraat tydens ‘n geslote sessie oor inklusiewe wêreldwye bestuur en die versterking van multilateralisme by die BRICS-beraad in Nieu-Delhi, Indië. Ramaphosa het egter gewaarsku dat die relevansie van die Verenigde Nasies en die toekoms van multilateralisme toenemend bedreig word weens skendings van die VN-handves en die gebruik van oorlog om geskille op te los:
Ramaphosa sê ook die Verenigde Nasies en ander wêreld-instellings weerspieël nie meer die werklikhede van vandag na wense nie en is swak toegerus om die uitdagings van die toekoms die hoof te bied. Hy sê Afrika, wat 54 lidlande van die Verenigde Nasies en bykans ‘n vyfde van die wêreldbevolking verteenwoordig, het steeds nie permanente verteenwoordiging in die VN-Veiligheidsraad nie. Hy sê Suid-Afrika vra dus weer vir die omvattende hervorming van die Veiligheidsraad, ten einde dit meer verteenwoordigend, verantwoordbaar, deursigtig en doeltreffend te maak:
# Die ANC is bekommerd oor wat hy beskryf as toenemende onbestendigheid binne die Departement van Basiese Onderwys sedert die DA-aangestelde minister Siviwe Gwarube in 2024 oorgeneem het. Die ANC se subkomitee oor Onderwys, Gesondheid, Wetenskap en Tegnologie sê ‘n onlangse vergadering het geïdentifiseer wat dit ‘n volgehoue gedragspatroon deur die Minister noem wat stabiliteit binne die departement ondermyn. Die party sê aanvanklike meningsverskille tussen Gwarube en sektorstrukture het sedertdien ontwikkel tot optrede wat volgens hulle goedgekeurde regeringsbeleide, wetlike mandate en gevestigde administratiewe praktyke oortree.
# Die Parlement het bevestig dat ‘n man in sy dertigs Vrydag in die vroeë oggendure die parlementêre terrein onwettig betree het. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die man is onmiddellik deur die Parlementêre Beskermingsdienste in hegtenis geneem. Volgens Mothapo is hy daarna aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig en hy is steeds in aanhouding:
# En ten slotte sportnuus:
# Rugby: Die Griekwas is vir nog ‘n jaar gekroon as Carling Currie-bekerkampioene nadat hulle ‘n swaarverdiende oorwinning van 23-16 teen die Pumas behaal het. Die tuisspan, wat gistermiddag in ‘n stampvol stadion in hul tuisdorp, Kimberley, gespeel het, het in die tweede helfte teruggeveg om die beker te behou. Dit is ondanks die Pumas se voorsprong van 13- 10 teen rustyd. Die ervare losskakel George Whitehead het in sy 150ste wedstryd uitgeblink en 13 deurslaggewende punte met sy skopskoen aangeteken.
# En tennis: Elena Rybakina het haar eerste VSA Ope-titel gewen nadat sy die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, gister in ‘n opwindende eindstryd van drie stelle in New York geklop het. Sabalenka, van Kazakstan, het vroeër ook die Australiese Ope gewen. Sy het nou haar derde Grand Slam-titel ingepalm. Danksy die oorwinning is Rybakina nou eerste op die wêreldranglys en beëindig sy Sabalenka se bewind van 99 weke aan die bopunt. In vandag se mansenkelspel-eindstryd kom die eerste gekeurde Alexander Zverev teen die agtste gekeurde Amerikaner. Ben Shelton, te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….