Nuus 11:00
BULLETIN 12 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Aucamp sê Suid-Afrikaanse boere benodig meer toegang tot befondsing
# Eskom verhoog sy energiebeskikbaarheidsfaktor tot die hoogste vlak in ses jaar
# En rugby: Naas Botha glo die Springbokke het ‘n fisiese en sielkundige voordeel oor die All Blacks
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, sê slegs grond is nie genoeg vir boere om te floreer nie. Hy sê boere het ook toegang tot befondsing, winsgewende bates, vee en gepaste ondersteuning nodig om volhoubare ondernemings te bou. Aucamp het deelgeneem aan ‘n paneelbespreking tydens Nampo Kaap in Bredasdorp in die Wes-Kaap. Die gesprek het gegaan oor ondermeer befondsingsmodelle, en toegang tot grond en boerderygeleenthede. Aucamp sê indien boere die nodige ondersteuning ontvang om sukses te behaal, groei die landbousektor en voedselsekerheid word versterk:
Aucamp sê intussen ook die departement beplan om die aantal voorligtingsbeamptes wat boere regoor Suid-Afrika ondersteun, te verhoog. President Cyril Ramaphosa het tydens vanjaar se staatsrede aangekondig tien-duisend voorligtingsbeamptes sal ontplooi word om boere te help om voedselproduksie te verhoog en werkgeleenthede vir jong gegradueerdes te skep. Aucamp beklemtoon hoe belangrik dit is om tegniese raad en steun nader aan boere te bring:
# Eskom sê sy energiebeskikbaarheidsfaktor het sedert die begin van die jaar gestyg tot 67,78-persent, die hoogste vlak in ses jaar. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê onbeplande onderbrekings het ook afgeneem van 26,61-persent tot 19,43-persent vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Sy sê verbeterde betroubaarheid en beskikbaarheid van die opwekkingsvloot het drie-duisend-500 megawatt opwekkingsvermoë tot die netwerk gevoeg en dieselbesteding met 4,8-miljard-rand verminder:
# Die Wes-Kaapse regering en die Mosselbaai-munisipaliteit het ooreengekom om sandsakke by Diazstrand te pak as ‘n tydelike maatreël om die risiko van kus-erosie te verminder. Die sakke is bedoel om die risiko van duine wat ineenstort te bekamp en om nabygeleë eiendomme, infrastruktuur en die publiek te help beskerm terwyl permanente oplossings oorweeg word. Daar sal deur middel van ‘n omgewingsbeoordeling oor ‘n langtermynoplossing besluit word, wat die verwydering van die sakke of die byvoeging van meer sand by die strand kan behels.
# Rugby: Die Springbok-legende Naas Botha glo Suid-Afrika het ‘n fisiese én sielkundige voordeel oor die All Blacks voor die vierde en laaste toets in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks, op die M&T Bank-stadion in Baltimore. Botha sê die Springbok-voorspelers het Nieu-Seeland in ‘n ongemaklike posisie geplaas voor die beslissende wedstryd. Suid-Afrika loop tans voor met 2-1 in die reeks van vier toetse. Hy sê die All Blacks het nie raad met die Springbokke se krag onder die voorspelers nie. Afskop is vanaand om 11-uur Suid-Afrikaanse tyd.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika en wêreldwyd ‘n vreedsame, veilige en vreugdevolle Rosh Hashanah en Jom Kippoer toegewens. Die Joodse gemeenskap betree tans die tydperk van die heilige dae en Ramaphosa sê dit herinner Suid-Afrikaners aan die blywende waarde van geloof en familie. Die president sê Rosh Hashanah is volgens Joodse tradisie ‘n tyd van vernuwing en nadenke, en dra ‘n tydlose boodskap oor die vermoë om verandering teweeg te bring, nie net in mense se eie lewens nie, maar ook in die lewens van ander.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….