Nuus 08:00
BULLETIN 12 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela kondig maatreëls vir die Studentehulpskema se bestuur en leierskap aan
# AgriSA en Agbiz stel minder beperkings voor vir BRICS landboumarkte
# En krieket: Nini en Bosch skitter met Vroue-Proteas wat Zimbabwe gemaklik klop
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het ‘n reeks maatreëls aangekondig om die bestuur, leierskap en bestendigheid van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te versterk. Die minister het Richardt Ramashia as tussentydse voorsitter van die raad aangewys. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die aanstelling het ten doel om leiding en bestendigheid te verseker terwyl die samestelling van die raad versterk word ooreenkomstig die NSFAS-wet:
Intussen het minister Manamela en die instelling se raad ooreengekom die onmiddellike fokus moet op studentebefondsing en dienslewering bly. Hulle het ook die skema se finansiële posisie, die afhandeling van verskille, die regstelling van ouditbevindings, studenteverblyf en gereedheid vir die 2027-akademiese jaar bespreek. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die fokus is nou daarop om bestendige bestuur en sterk uitvoerende leierskap in die skema te verseker:
# AgriSA en die Landbou-Sakekamer vra meer landbouhandel tussen BRICS-lande. Hulle voer aan laer tariewe en minder handelsprobleme sal Suid-Afrikaanse boere en ondernemings help om meer markte te bereik en voedselsekerheid te versterk. Wandile Sihlobo van AgriSA sê BRICS-lande voer jaarliks landbouprodukte ter waarde van meer as vier-miljard-rand in, maar hoë tariewe en ingewikkelde handelsreëls beperk handel tussen lidlande. Sihlobo pleit vir beter marktoegang en eenvoudiger handelsreëls.
# Die organisasie teen Belasting Misbruik sê Eskom het opgehou om huishoudings wat nie hul sonkragstelsels registreer nie, te dreig met boetes of om hulle kragtoevoer af te sny. Die nutsmaatskappy het ook die vereiste laat vaar dat ‘n geregistreerde professionele persoon hierdie stelsels moet goedkeur. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, sê Eskom het steeds nie die wetlike grondslag waarvolgens huishoudings met sonkragstelsels van minder as 100 kilowatt hul stelsels moet registreer nie. Duvenage het huiseienaars aangemoedig om toe te sien dat hul stelsels veilig is en oor ‘n geldige sertifikaat van voldoening beskik.
# Die Wes-Kaapse regering verskerp sy reaksie op tuberkulose, met meer as 53-duisend aktiewe gevalle wat teen verlede maand aangemeld is. Die provinsiale Gesondheidsdepartement het TB-toetsing uitgebrei, veral vir hoërisikogroepe, en bied voorkomende behandeling aan vir kinders wat aan die siekte blootgestel is. Inwoners word versoek om getoets te word as hulle TB-simptome het of blootgestel is aan iemand met TB, terwyl persone wat gediagnoseer word dadelik met behandeling moet begin en dit voltooi.
# En krieket: Nthabiseng Nini het vier paaltjies in haar eerste internasionale wedstryd laat kantel en Anneke Bosch het ‘n vinnige 72 lopies aangeteken in die Protea-vroue se oorwinning van agt paaltjies in die eerste T20-internasionale wedstryd teen Zimbabwe in Bulawayo. Zimbabwe is vir 89 lopies uitgeknikker met Nini wat vier paaltjies vir 17 lopies geneem het, waarna Suid-Afrika die teiken bereik het, met nog 54 balle oor. Bosch het die aanslag gelei met ses viere en drie sesse, terwyl Laura Wolvaardt met 22 onoorwonne lopies geëindig het. Die oorwinning gee Suid-Afrika ‘n vroeë voorsprong in die vyfwedstryd-reeks.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….