Nuus 07:00
BULLETIN 12 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlementêre ad hoc-komitee kry ‘n sesde verlenging van sy sperdatum
# AfriForum waarsku die voorgestelde wetgewing oor onwettige mynbou mag moeilik wees om af te dwing
# En: Putin kritiseer Westerse sanksies by die BRICS-sakeberaad
# Die Parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, het tot 30 Oktober om sy verslag te finaliseer. Dit is die sesde keer dat komitee se sperdatum verleng word, sedert persoonlike getuienis in Maart afgesluit is. Die verhouding tussen sakeman Brown Mogotsi en die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat met spesiale verlof is, bly ‘n sleutelkwessie. Die DA sê daar was moontlik ‘n tussenganger wat die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala gehelp het om toegang tot Mchunu te kry.
# AfriForum sê voorgestelde wetgewing om onwettige mynbou te bekamp, sal net werk indien die regering oor voldoende kapasiteit beskik om dit af te dwing. Die organisasie steun strenger strawwe van tot 30 jaar tronkstraf vir sekere oortredings, maar waarsku nuwe permitte vir kleinskaalse mynbou kan misdaadgroepe help om mynbouaktiwiteite buite goedgekeurde gebiede weg te steek of minerale wat onwettig ontgin is, te verkoop. Marais de Vaal van AfriForum vra sterker wetstoepassingstelsels voordat nuwe mynboupermitte ingestel word:
# Die Stad Johannesburg sê die rehabilitasieprojek vir Lilian Ngoyistraat wat 192-miljoen-rand beloop, is meer as 75-persent voltooi en steeds op koers vir heropening in Oktober 2026. Die burgemeester Dada Morero sê die vervoerkorridor van 1,8-kilometer het uitgebreide ondergrondse infrastruktuurwerk vereis ná die metaangasontploffing in 2023. Ingenieurs het tot vyf meter diep uitgegrawe om die fondasie te herbou en water-, elektrisiteit- en ander dienste te installeer. Die Johannesburgse Padagentskap sê die groot werk behoort voor die heropening in Oktober voltooi te wees.
Build One South Africa sê intussen die projek moet ondersoek word vir moontlike korrupsie. BOSA het die oproep gedoen tydens die bekendstelling van sy verkiesingsplakkate in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing van 2026. Die party sê die projek laat ernstige vrae ontstaan oor openbare besteding en aanspreeklikheid. BOSA gebruik die bekendstelling om homself as ‘n vars alternatief in Johannesburg te vestig, en belowe strenger toesig, bekwame bestuur en verbeterde munisipale dienste vir inwoners.
# Die Russiese president Vladimir Putin het Westerse sanksies die skuld gegee vir industriële agteruitgang en toenemende ekonomiese druk. Tydens die dialoog vir leiers by die BRICS-sakeforum in Nieu-Delhi, Indië, het Putin met behup van ‘n tolk gesê sanksies het bygedra tot ‘n afname in industriële produksie, toenemende staatskuld en begrotingsprobleme. Hy het ‘n beroep op die BRICS-lande gedoen om handel, belegging en sake-samewerking te versterk, en beklemtoon Rusland is steeds oop vir samewerking met vennote regoor die wêreld.
# En krieket: Suid-Afrika het ‘n onaantasbare voorsprong van 2-0 in hul eendag-reeks van drie wedstryde teen Namibië ná ‘n oorwinning van 157 lopies in Windhoek. Connor Esterhuizen het sy eerste eendag-honderdtal aangeteken en 119 lopies gemoker, terwyl Tony de Zorzi 79 bygedra het om die Proteas se beurt op 335 vir nege te eindig. Namibië is daarna vir 178 lopies uitgeknikker. Duan Jansen het vier paaltjies geneem en Eathan Bosch drie. Suid-Afrika het die openingswedstryd met 99 lopies gewen. Die laaste wedstryd word môre gespeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….