Nuus 13:00
BULLETIN 11 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê een benadering vir alle munisipaliteite werk nie meer nie
# Die Verkiesingskommissie sê die ANC moet aanspreeklikheid aanvaar vir sy kandidaatlys-flaters
# En rugby: Rassie Erasmus bereik sy 100ste toets in beheer van die Springbokke
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika moet sy plaaslike regeringstelsel ingrypend heroorweeg, want dieselfde benadering vir alle munisipaliteite is nie meer doeltreffend nie. Hy sê munisipaliteite verskil heelwat wat betref ekonomiese grondslag, hulle vermoë om inkomste in te win, infrastruktuurbehoeftes en funksies wat hul kan verrig. Die instituut se woordvoerder, Terence Corrigan, sê ‘n hersiene stelsel moet verantwoordelikhede en hulpbronne beter belyn en aansporings skep vir munisipaliteite om hul eie inkomste in te win:
Die Verkiesingskommissie sê intussen die ANC moet aanspreeklikheid aanvaar nadat sy kandidatelyste vir ses munisipaliteite nie betyds ingedien is nie. Die ANC voer in sy aansoek in die Verkiesingshof aan die kandidaatbesonderhede is voor die sperdatum op die OVK se stelsel vasgelê, maar tegniese probleme het sy administrasie verhinder om die finale indiening te voltooi. Die OVK sê in ‘n beëdigde verklaring die ANC hou nie rekening dat onvoorsiene probleme kan ontstaan nie en dit is nie wenslik om sake tot op die nippertjie te laat nie.
# Transnet sê die verkoop van ‘n belang van 49,99-persent in Durban se houerterminaal gee die toon aan vir toekomstige vennootskappe met die privaat sektor. Die transaksie het ‘n wins van 12,5-miljard-rand opgelewer en bygedra tot Transnet se jaarwins van 4,6-miljard-rand. Uitvoerende hoof Michelle Phillips sê vennootskappe sal help om doeltreffendheid en mededinging op die gebied van spoorvervoer, hawens en pypleidings te verbeter. Transnet beplan drie fases van vennootskappe, terwyl die maatskappy poog om spoorvolumes te verhoog, instandhoudings-agterstande op te ruim en infrastruktuur-finansiering van 14,8-miljard-rand te ontsluit.
Nuus uit die buiteland:
# Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, verwelkom Kanada se belofte om te help om Kiëf se lugverdediging te versterk. Hy en premier Mark Carney het ‘n vennootskap van 100-jaar gesluit wat langtermyn-samewerking in verdediging en veiligheid vestig. Dit volg te midde van Rusland se verskerpte hommeltuig- en missielaanvalle, terwyl Kiëf se langafstand-see- en -lug-hommeltuie raffinaderye en hawens diep binne Russiese grondgebied tref. Zelenski het Kanada se lugverdedigingspakket as baie belangrik bestempel:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus bereik môre sy 100ste toets in die vierde kragmeting teen Nieu-Seeland in Baltimore, Amerika. Hy het die Bokke sedert 2018 gelei tydens 73 oorwinnings, een gelykop-stryd en 25 nederlae, en die Wêreldbeker twee keer verower. Jacques Nienaber was tussen 2020 en 2023 afrigter in 39 toetse, maar Erasmus was steeds nou betrokke as direkteur van rugby. ‘n Rugby’s Greatest Rivalry-reeksoorwinning vir Suid-Afrika môre word beskou as ‘n gepaste eerbetoon aan die inspirerende mentor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-253-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-345-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….