Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Nieu-Seeland se afrigter, Dave Rennie, het ‘n hele paar veranderinge aangebring vir môre se laaste toets in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen Suid-Afrika in Baltimore. Richie Mo’unga maak sy eerste toetsverskyning sedert 2023 wanneer hy op losskakel uitdraf. Anton Lienert-Brown en Ethan Blackadder vervang die beseerde Quinn Tupaea en Luke Jacobson. Peter Lakai verskuif van flank na Ardie Savea se plek op agsteman. Die haker Codie Taylor sal die span aanvoer. Rennie het besluit op ʼn verdeling van vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank.
Intussen is daar volgens berigte groot belangstelling in môre se toets, maar al 71-duisend kaartjies sal waarskynlik nie verkoop word nie. Dié eerste wedstryd tussen die aartsvyande op Amerikaanse bodem kom teen ‘n stywe prys, met die goedkoopste kaartjies wat verkoop vir gelykstaande aan een-duisend-800-rand vir die boonste vlak, en tussen drie- en sewe-duisend vir die laer vlak. Die BBP-gasvryheidsitplekke verkoop vir meer as 28-duisend-rand. Afskop is môreaand net na elf, Suid-Afrikaanse tyd.
# Sokker: Frankryk se beheerliggaam, die FFF, het sy steun onttrek vir FIFA se president, Gianni Infantino, se herverkiesing volgende jaar. Hy is veroordeel oor sy mislukte planne om aandele in die Wêreldbekertoernooi en ander kompetisies aan beleggers te verkoop. Die Europese liggaam UEFA, AFC van Asië en die Noord-Amerikaanse beheerliggaam, CONCACAF, sê Infantino moet uittree. CONMEBOL van Suid-Amerika en CAF van Afrika steun hom steeds. Die FFF se president, Philippe Diallo, vra omvattende hervorming van FIFA se bestuur.
# Tennis: Die topgekeurdes speel die eerste keer in 13 jaar in die vroue-eindstryd van die Amerikaanse Ope. Elena Rybakina van Kazakstan, wat Maandag by Aryna Sabalenka van Belarus oorneem as wêreld-nommer-een, het die tuisgunsteling, Coco Gauff, uitgeskakel om die eerste keer die eindronde te haal. Sabalenka het nog ‘n Amerikaner, Jessica Pegula, op Flushing Meadows in New York verslaan. Sabalenka, wat mik na haar derde agtereenvolgende titel, verwag ‘n taai stryd:
# En atletiek: Prysgeld van meer as 160-miljoen-rand is op die spel tydens Wêreldatletiek se Ultimate kampioenskap, wat vandag in Boedapest in Hongarye begin. Sowat 380 atlete neem deel, waaronder ses Suid-Afrikaners. Die mans-wêreldrekordhouer in paalspring, die Sweeds-Amerikaanse atleet Mondo Duplantis, is een van die groot trekpleisters. Daar is geen kwotastelsel vir lande nie, met deelname uitsluitlik gegrond op prestasie. Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, sê die byeenkoms is geskep om te verseker elke seisoen word met ‘n groot internasionale kampioenskap afgesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….