Nuus 12:00
BULLETIN 11 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê die ANC moet aanspreeklikheid aanvaar vir sy kandidaatlys-flaters
# Die Amerikaanse adjunkpresident vra Amerikaners om nie te stem vir die party van haat in die middeltermynverkiesing nie
# En rugby: Die All Blacks-afrigter skommel sy span vir die laaste toets teen die Bokke
# Die Verkiesingskommissie sê die ANC moet aanspreeklikheid aanvaar nadat sy kandidatelyste vir ses munisipaliteite nie betyds ingedien is nie. Die ANC voer in sy aansoek in die Verkiesingshof aan die kandidaatbesonderhede is voor die sperdatum op die OVK se stelsel vasgelê, maar tegniese probleme het sy administrasie verhinder om die finale indiening te voltooi. Die OVK sê in ‘n beëdigde verklaring die ANC hou nie rekening dat onvoorsiene probleme kan ontstaan nie en dit is nie wenslik om sake tot op die nippertjie te laat nie.
# Forum for South Africa sê die regering moet die slaagvereistes vir matriek verhoog, en sê ‘n 30 persent-slaagsyfer in sommige vakke is te laag. Die forum beplan om ‘n Wiskunde-program vir grade vier tot sewe in werking te stel om leerders se vaardighede te verbeter voordat hulle matriek bereik. Tebogo Mashilompane van die Forum sê meer belegging is in basiese onderwys nodig, veral in wiskunde, wetenskap, lees en digitale vaardighede:
# Die Valke, in samewerking met INTERPOL, hanteer vanmiddag die uitlewering van ses Nigeriese burgers wat na bewering lede is van die Black Axe georganiseerde misdaadnetwerk. Amerikaanse owerhede soek hulle vir internetbedrog en geldwassery wat met ‘n liefde-slenter verband hou. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê die verdagtes het na bewering meer as 100 vroue in Amerika uit meer as 100-miljoen-rand bedrieg. Sy sê van die slagoffers is pensioentrekkers wat met gesofistikeerde aanlyn verhoudings geteiken is:
# Amerika se adjunkpresident, JD Vance, het burgers aangemoedig om die Republikeine in November se middeltermynverkiesing te steun en aangevoer die Demokrate vaar heelwat swakker. Die Republikeinse Party probeer om beheer van die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat te behou, groter steun vir sy kongreskandidate te werf en kiesers se kommer oor die ekonomie en die oorlog met Iran te verminder. Vance het tydens ‘n byeenkoms in Dallas skerp kritiek gelewer teen wat hy die party van haat noem:
# Rugby: Nieu-Seeland se afrigter, Dave Rennie, het ‘n hele paar veranderinge aangebring vir môre se laaste toets in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen Suid-Afrika in Baltimore. Richie Mo’unga maak sy eerste toetsverskyning sedert 2023 wanneer hy op losskakel uitdraf. Anton Lienert-Brown en Ethan Blackadder vervang die beseerde Quinn Tupaea en Luke Jacobson. Peter Lakai verskuif van flank na Ardie Savea se plek op agsteman. Die haker Codie Taylor sal die span aanvoer. Rennie het besluit op ʼn verdeling van vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-306-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-349-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….