Nuus 07:00
BULLETIN 11 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee vra die Speaker vir ’n sesde verlenging
# Meer as 170 tronkbeamptes staar tugstappe in die gesig
# En rugby: Wêreldrugby praat oor die verskuiwing van ‘n Sesnasies-wedstryd na die VSA
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat korrupsie in die strafregstelsel ondersoek, het aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, geskryf en nog uitstel gevra. Hierdie versoek kom terwyl die komitee besig is om sy voorlopige verslag saam stel, wat vandag ingedien moes word. Didiza het die komitee reeds vyf keer uitstel gegee. Die komiteevoorsitter, Soviet Lekganyane, sê daar is steeds te veel werk om te doen:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste se nasionale kommissaris, Makgothi Thobakgale, het bekend gemaak dat tugoptrede teen 173 tronkbewaarders aan die gang is. Sommige word aangekla dat hulle gevangenes gehelp het om smokkelware in die tronk in te bring. Dis deel van verskerpte landwye ingryping en onlangse intelligensie-gedrewe klopjagte by tronke. Thobakgale sê ná die ontsnapping by die Rooigrond Maksimum Korrektiewe Sentrum sal hulle voortgaan om diegene te vervolg wat die korrektiewe stelsel se integriteit probeer ondermyn:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê hulle staan saam met werkers by Adcock Ingram wat gekant is teen planne om tot 250 werknemers af te dank en een van die maatskappy se aanlegte te sluit. Die party sê die afdankings kom te midde van toenemende afleggings in die farmaseutiese sektor, met meer as twee-duisend-500 werkers wat volgens berigte die afgelope 18 maande hul werk verloor het. Waarnemende woordvoerder Mhlekwa Nxumalo het die regering versoek om in te gryp om werksgeleenthede te beskerm en die ontwikkeling van ‘n staatsbeheerde farmaseutiese vervaardigingsektor te ondersteun.
# Die Stad Kaapstad sê damvlakke het gedaal tot 75,5-persent, vergeleke met 92,4-persent in dieselfde tyd verlede jaar. Die stad versterk waterbesparingsmaatreëls, insluitend die herstel van lekkasies en die vervanging van ou pype, terwyl waterbeperkings oorweeg word in die aanloop tot ‘n verwagte warmer en droër somer. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, het inwoners en besighede aangespoor om water verantwoordelik te gebruik om die stad se watervoorraad te help beskerm.
# Die Internasionale Atoomenergie-agentskap sê hy hou aktiwiteite dop by Iran se Pickaxe-berg, ‘n ondergrondse tonnel-netwerk naby Teheran se Natanz-uraanverrykingsfasiliteit. Die hoogs versterkte terrein is vermoedelik ʼn kernfasiliteit wat in aanbou is. Volgens berigte gebruik Iran opgegaarde onderdele om missiele te vervaardig wat met soliede en vloeibare brandstof aangedryf word. Die agentskap se direkteur-generaal, Rafael Grossi, het aan Bloomberg gesê hulle het geen konkrete inligting oor moontlike aktiwiteite wat by Pickaxe plaasvind nie:
# Rugby: Wêreldrugby het met onderhandelings begin om ʼn Sesnasies-wedstryd in die Verenigde State aan te bied in aanloop tot die 2031-Wêreldbeker. Die M&T Bank-stadion in Baltimore met plek vir 71-duisend toeskouers, is uitverkoop vir môre se vierde en laaste toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland. Wêreldrugby se uitvoerende hoof, Alan Gilpin, sê die finansiële prestasie van die Baltimore-wedstryd bewys kommersiële opbrengste is nie meer ʼn struikelblok nie. Hy sê daar is ruimte om sommige van hierdie groot wedstryde in Amerika te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-930-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-327-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 109-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….