Nuus 18:00
BULLETIN 10 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society sê die regering versuim om kinders te beskerm
# Black Business Unity verskuif na ekonomiese groei in townships
# En, gholf: Amerika hersien kwalifiseringstelsel vir volgende jaar se Ryderbeker in Limerick
# Action Society het die minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, versoek om ouers en versorgers beheerde toegang te gee tot inligting oor volwassenes wat skuldig bevind is aan seksuele oortredings teen kinders. Die organisasie voer aan die geheimhouding rondom die nasionale register vir seksoortreders, stel ouers nie in staat om hul kinders behoorlik te beskerm nie. Juanita du Preez van Action Society sê meer as 74-duisend keuringsaansoeke is steeds uitstaande, terwyl ongeveer 300-duisend onderwysers volgens berigte steeds nagegaan moet word:
# Black Business Unity sê sy fokus verskuif van versoekskrifte aan die regering na ekonomiese bevordering in Gautengse townships. Die groep sê hy is gefrustreerd oor wat hy noem die stelselmatige verwaarlosing van township-ekonomieë en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid oor befondsing van klein ondernemings. Die stigterslid, Mike Molloyi, sê van volgende week af word mini-sakekamers in munisipale wyke bekendgestel. Hy sê die veldtog sal onafhanklike befondsing insamel, met gemeenskappe skakel en ondernemings help om groter beheer te neem oor plaaslike ekonomiese ontwikkeling.
# Die DA in die Wes-Kaap vra veilige en betroubare openbare vervoer te midde van moontlike ontwrigting in Golden Arrow-busdienste. Dit volg nadat die hof ‘n interdik toegestaan het om ‘n beplande staking deur werknemers te voorkom. Die DA-lid, Nomafrench Mbombo, sê die Stad Kaapstad brei sy MyCiTi-dienste uit na gebiede soos Khayelitsha, Lansdowne en Wynberg. Mbombo waarsku besnoeiings aan nasionale befondsing kan hierdie planne kniehalter:
# Gholf: Amerika hersien sy kwalifiseringstelsel vir volgende jaar se Ryderbeker-kompetisie en die wedloop om ses outomatiese plekke sal nie voor Januarie begin nie. Die kwalifiseringsproses sal eers ná 31 toernooie in Augustus afgehandel word. Amerika sal die volgende maand in Limerick, Ierland, teen die Wêreldspan te staan kom. Die PGA van Amerika sê spelers se uitslae in vorige toernooie word uitgeskakel. Reuters berig hul beweeg weg van ‘n puntestelsel verbind aan prysgeld en ken eerder vaste punte toe volgens die gehalte en sterkpunte van elke toernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-995-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-364-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte, navorsers sê bewyse uit Indonesië dui daarop dat mense moontlik psigoaktiewe plante 25-duisend jaar gelede gebruik het. Die studie fokus op antieke plantoorskotte wat in ‘n grot op die eiland Sulawesi ontdek is, onder meer tekens van natuurlike stowwe wat die brein kan affekteer. Wetenskaplikes sê die bevindings skuif die vroegste bekende bewyse van doelbewuste dwelmgebruik met duisende jare terug. Die ontdekking gee ook moontlike verklarings hoe prehistoriese mense plante vir rituele, medisinale of ontspanningsdoeleindes gebruik het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….