Nuus 17:00
BULLETIN 10 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die data dui op nog meer brandstof-pyn in Oktober
# Mynbouproduksie daal met 7,5-persent in Julie
# En, tennis: die top vier gaan sake uitspook vir ‘n plek in die Amerikaanse Ope se vroue-eindstryd
# Huidige data deur die Sentrale Energiefonds dui op groot brandstofprysstygings volgende maand, wat petrolpryse na ‘n rekordhoogtepunt kan opjaag en dieselpryse laat styg tot naby die rekordhoogtepunt in Mei. In hierdie stadium kan petrolpryse op 7 Oktober met ongeveer twee-rand-vyf-sent styg, en dieselpryse kan met tussen een-rand-65- en een-rand-98-sent per liter styg. Dit word toegeskryf aan die prys van ruolie, met Brent wat gister die eerste keer sedert laat Julie oor die 100-dollar per vat gestyg het as gevolg van die toenemende konflik in die Midde-Ooste.
# Statistiek Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in Julie met 7,5-persent op ‘n jaargrondslag gedaal, hoofsaaklik weens afnames in die produksie van platinumgroepmetale, steenkool en ystererts. Verkope van minerale het ook met 5,6-persent afgeneem, terwyl goudverkope met meer as 33-persent getuimel het. Juan-Pierre Terblanche van Statistiek Suid-Afrika sê seisoenaal aangepaste mineraalverkope het op ‘n maandelikse grondslag met 15,1-persent gedaal en mynbouproduksie is 1,9-persent laer as in Junie:
# Die Stad Johannesburg rig ‘n dringende waarskuwing aan inwoners en eiendomseienaars ná ‘n toename in goed-beplande bedrogskemas wat munisipale rekeninghouers teiken. Swendelaars doen hulle voor as amptenare of kontrakteurs van Stad Johannesburg, Johannesburg Water en City Power, en nader inwoners deur bedrieglike e-posse, SMS’e, telefoongesprekke en besoeke. Die stad se woordvoerder, Poppy Louw, sê misdadigers besoek privaat eiendomme, toon vervalste werkskaarte en dreig inwoners met die onmiddellike afsluiting van dienste:
# Minstens 20 mense is dood in ‘n brand wat op ‘n vragskip in die oostelike Chinese hawestad Qingdao uitgebreek het. Die brand, wat in die middel van die oggend ontstaan het, is ‘n paar uur later onder beheer gebring. Staatsmedia sê die skip het vrag vervoer toe die brand begin het, en verskeie mense was aan boord vasgekeer. Noodspanne het sommige bemanningslede gered. ‘n Ondersoek na die oorsaak van die brand is aan die gang. Die owerhede het nog nie die nasionaliteite van die slagoffers bekend gemaak nie.
# Tennis: Die vier top-gekeurde vroue gaan sake uitspook vir ‘n plek in die Amerikaanse Ope se eindstryd. Die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, wat mik na ’n derde agtereenvolgende titel op Flushing Meadows, pak die Amerikaner Jessica Pegula in die voorlaaste ronde. Sabalenka het Pegula in 2024 die titel ontneem. Die nuwe wêreld-nommer-een, Elena Rybakina van Kazakstan, speel teen ‘n voormalige kampioen, die Amerikaner Coco Gauff. Dis die eerste keer sedert Wimbledon in 2009 dat al vier die topgekeurdes van ’n Grand Slam-toernooi die halfeindronde haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-942-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-349-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….