Nuus 16:00
BULLETIN 10 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC bevestig foute met sy verkiesingskandidatelys in drie munisipaliteite in KwaZulu-Natal
# Ysland wil walvisjag verbied en Noorweë en Japan isoleer
# En atletiek: Dambile lei die Suid-Afrikaanse span op die eerste Ultimate-kampioenskap in Boedapest
# Die ANC in KwaZulu-Natal sê tegniese probleme het sy kandidaatlyste in drie munisipaliteite geraak voor November se plaaslike regeringsverkiesing. Die koördineerder van die provinsiale taakspan, James Nxumalo, sê in eThekwini en Ray Nkonyeni is sekere kandidate in die verkeerde wyke gelys en daar was ook gevalle van herhalings en omruilings. Provinsiale sameroeper Mike Mabuyakhulu sê ondanks die probleme glo hy steeds die party geniet sterk steun oral in die provinsie:
# Suid-Afrika en Saoedi-Arabië wil toerismebande verder versterk, insluitend met meer regstreekse vlugte tussen die twee lande. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê gesprekke sluit vlugte na Johannesburg en pelgrimstog-dienste na Kaapstad in. Sy sê Saoedi-Arabië is een van 30 lande wat Suid-Afrika se elektroniese reismagtigingstelsel dek en reisigers uit dié land toelaat om aanlyn aansoek te doen vir visums. De Lille sê aansoeke word in minder as 24-uur verwerk:
# Die Verenigde Nasies se inwonende koördineerder in Suid-Afrika, Nelson Muffuh, sê die land ondervind ‘n kritieke uitdaging om ambisieuse ontwikkelingsplanne in werklike gevolge te omskep. Hy het aan die SABC gesê Suid-Afrika het ‘n sterk grondslag ten opsigte van beleide, hervormings en vennootskappe, maar inwerkingstelling is noodsaaklik. Werkloosheid van 33,6-persent en ekonomiese groei van slegs 1,1-persent beteken dringende optrede is nodig om werk te skep en ongelykheid te verminder. Muffah sê verbeterde elektrisiteitsbestendigheid en strukturele hervormings bied versigtige optimisme, maar lewering moet nou ooreenstem met ambisie.
# Ysland se regering gaan in Februarie ‘n wetsontwerp indien om walvisjag te verbied. Indien dit aanvaar word, sal Noorweë en Japan die enigste twee lande ter wêreld wees wat steeds kommersiële walvisjag beoefen. Walvisjag in Ysland veroorsaak reeds jare versetoptrede deur diereregte-aktiviste en Hollywood-bekendes. Die Internasionale Walviskommissie se vangrekords dui aan slegs Ysland, Noorweë en Japan beoefen die afgelope jare kommersiële walvisjag. Noorweë het dit in 1993 hervat en Ysland in 2006, ondanks ‘n internasionale verbod wat in 1986 ingestel is om walvisbevolkings te beskerm.
# Atletiek: Die Statebond-kampioen, Sinesipho Dambile, lei Suid-Afrika se span in die naweek se eerste Wêreldatletiek-Ultimate kampioenskap in Boedapest, Hongarye. Hy sal aan die mans-100-meter deelneem saam met Akani Simbine en Gift Leotlela, terwyl Zakithi Nene aan die mans-400-meter sal deelneem. Prudence Sekgodiso sal wegspring in die vroue-800-meter en Marioné Fourie in die vroue-100-meter-hekkies. Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, sê die jaar se beste presteerders sal meeding:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-506-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-350-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….