Nuus 18:00
BULLETIN 9 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula betwis die verband tussen haar huisverbouings en beweerde omkoopgeld
# GIWUSA sê die jongste BBP-syfers ontbloot die ekonomie se strukturele kwesbaarheid
# En, ‘n KI-veiligheidsnavorser waarsku oor ‘n moontlike bedreiging vir die mensdom
# Die voormalige minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het aan die Hooggeregshof in Pretoria gesê die opknappingswerk aan haar huis in Bruma het in 2004 begin, jare voor die staat se beweerde omkoopgeldperiode. Sy sê opgraderings het tot 2018 voortgeduur. Die staat beweer ongeveer 1,8-miljoen-rand se beweerde omkoopgeldis in kontant aan ‘n binnehuisversierder betaal vir meubels en opknappings. Mapisa-Nqakula ontken die verband en sê sy kan nie al die opknappingsdatums onthou nie.
# Die vakbond GIWUSA sê hy is bekommerd oor die bruto binnelandse produk se inkrimping in die tweede kwartaal vanjaar. Die BBP het met 0,2-persent gekrimp ná groei van 0,4-persent in die eerste kwartaal. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê terwyl apologete vir kapitaal sal verwys na die oorlog in Iran en wêreldwye onderbrekings in voorsieningskettings, ontbloot hierdie eksterne faktore net die strukturele kwesbaarheid van ‘n ekonomie wat doelbewus van sy produktiewe verdedigingsmeganismes gestroop is:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta moedig jongmense aan om dit te oorweeg om vir die 2027-akademiese jaar aansoek te doen by kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding. Aansoeke sluit op 30 September. Makaneta sê Suid-Afrikaners moet hul siening oor hierdie kolleges verander. Hy vra jongmense om kolleges as ‘n eerste keuse vir verdere studie te beskou en nie as ‘n alternatief vir ander keuses nie:
# ‘n Senior navorser by die kunsmatige intelligensiemaatskappy Anthropic sê daar is ‘n kans van minstens 10-persent dat gevorderde kunsmatige intelligensie alle mense binne die volgende dekade kan uitwis. Evan Hubinger, wat Anthropic se belyningsnavorsing lei, het tot die gevolgtrekking gekom nadat ‘n ander maatskappynavorser bedank het weens kommer dat KI-firmas te vinnig na selfverbeterende stelsels beweeg. Hy sê die risiko is tans laag, maar is bekommerd dat toekomstige stelsels moontlik in staat sal wees om tot buite menslike beheer te verbeter. Anthropic werk daaraan om hierdie risiko’s aan te spreek, maar erken daar is nog geen omvattende oplossing nie.
# Gholf: Die tweemalige major-kampioen Jon Rahm het erken LIV Gholf se onsekere toekoms het nog meer woelinge veroorsaak. LIV het vir Amerikaanse bankrotskapbeskerming aansoek gedoen nadat die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds sy finansiering onttrek het. Aansoekdokumente toon die geld wat aan LIV se krediteure verskuldig is, met die 30 grootste onversekerde eise. Die Spanjaard wat bo-aan die lys is met ‘n eis van 120-miljoen-rand, weier om te sê of hy na die PGA-toer wil terugkeer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-999-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-422-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….