Nuus 16:00
BULLETIN 9 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se Artikel 89-komitee gaan hofaansoeke oor sy getuienisleier teenstaan
# Iran teiken ‘n Amerikaanse basis in Jordanië en olietenkskepe in die Seestraat van Hormoes
# En sokker: ‘n Forum steun ‘n leierskaps-verandering in SAFA
# Die Parlement se Artikel 89-ampsklagkomitee ondervind hernude regs-uitdagings nadat hy sy aanbeveling van advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier teruggetrek het. Die African Legal Practitioners’ Association en die EFF het afsonderlike Hooggeregshof-aansoeke ingedien en betoog die besluit is irrasioneel al het Madonsela vanoggend die terugtrekking in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aanvaar. Die komitee het sy naam onttrek nadat president Cyril Ramaphosa ‘n belangebotsing aangevoer het. Die EFF-parlementslid Omphile Maotwe sê die party sal voortgaan om swak parlementêre besluitneming uit te daag.
# Solidariteit is bekommerd oor toenemende afleggings in die mynbousektor. Sibanye-Stillwater het aangekondig die herstrukturering van sy Kwezi-skag in Rustenburg, Noordwes, kan een-duisend-114 werknemers en kontrakteurs raak. Woordvoerder Willie Venter sê een-duisend-214 poste op De Beers se Venetia-myn en sowat een-duisend-800 op Petra Diamonds se Finsch- en Cullinan-myne is ook onder druk. Hy sê dit dui op ‘n kommerwekkende afname in werksekerheid in ‘n bedryf waarvan duisende gesinne en gemeenskappe afhanklik is:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Revolusionêre Wag sê hy het ballistiese missiele op ‘n basis in Jordanië afgevuur wat deur die Amerikaanse Weermag gebruik word, en tien skepe aangeval nadat Amerika aangekondig het vyf Iranse olietenkskepe is vernietig. Dit dui op ‘n verergering van die oorlog van ses maande. Toenemende wedersydse aanvalle het ‘n maand van betreklike kalmte beëindig en militêre, skeepsvaart- en energiebates geteiken. Dit het oliepryse laat opskiet en al meer streeksbondgenote by die konflik betrek. Jordanië sê sy lugverdedigingstelsels het 18 van die 20 Iranse missiele onderskep, sonder enige ongevalle.
# Sokker: Activists and Citizens Forum vra ‘n leierskaps-verandering in die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging voor die naweek se verkiesingskonferensie. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê SAFA se president, Danny Jordaan, is ‘n las en moet opsystaan weens berigte oor finansiële uitdagings. Hy sê dringende ingryping is nodig. Bloem beklemtoon die forum se steun aan die sakeman Sandile Zungu vir die presidentskap en sê sy sake-ervaring en passie vir sokker kan SAFA help red en die ontwikkeling van die spel in Suid-Afrika versterk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-401-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-398-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die DA in Gauteng dring aan op ‘n openingsdatum vir die Vroue Lewende Erfenismonument in Pretoria. Die party se woordvoerder, Leanne de Jager, verwelkom die uitreiking van die gedenkteken se gebruiksertifikaat, maar sê die kompleks van 200-miljoen-rand moet nou vir die publiek oopgestel word. Dit bly gesluit sedert 2018 weens bouwerk- en nakomingsprobleme. De Jager vra die Gautengse regering om te verseker die deure maak oop en bly oop:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….