Nuus 15:00
BULLETIN 9 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oliepryse styg tot bo 100-dollar terwyl die Midde-Oosterse konflik uitkring
# Johann Rupert se seun word aangestel in ‘n leierskapsrol in Richemont
# En krieket: Bavuma sê die Proteas is gereed vir die eendagreeks teen Australië
# Brent-ruolie-pryse het vandag tot bo 100-dollar per vat gestyg, ‘n hoogtepunt van meer as ses weke, en die simboliese vlak die eerste keer sedert 24 Julie oorgesteek terwyl die verergerende konflik in die Midde-Ooste kommer laat toeneem oor olie-vloei in die streek. Brent-pryse het sedert vroeg verlede maand met 25-persent gestyg terwyl die hoop vervaag vir ‘n permanente oplossing vir die konflik tussen Amerika en Iran wat reeds ses maande voortwoed. Brent het sedert die begin van die oorlog sy hoogste vlak van 126-dollar-41-sent per vat bereik op 30 April.
# Die seun van Richemont se voorsitter, Johann Rupert, is aangestel as die maatskappy se nie-uitvoerende mede-adjunkvoorsitter. Suid-Afrika se rykste persoon, met ‘n geraamde netto-waarde van meer as 262-miljard-rand, het die Switsers-gebaseerde luukse goedere-houermaatskappy in 1988 gestig. Dit besit handelsmerke soos Cartier en Van Cleef & Arpels. Die 39-jarige Anton Rupert sal dien saam met Bram Schot, wat in 2024 aangestel is as Richemont se adjunkvoorsitter. Johann Rupert sê sy seun se aanstelling is ‘n belangrike stap in die raad se langtermyn-opvolgingsbeplanning.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement belê 44-miljoen-rand in sy Matriekskoolvakansieprogram voor die eindeksamen. Die fondse word verdeel oor herfs-, winter- en lenteskole. Die DA-lid, Peter Johnson, verwelkom die stap en sê ‘n verdere 25-miljoen-rand per jaar gaan aan wiskunde- en wetenskaps-ondersteuning:
# Krieket: Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, sê die eendagreeks teen Australië is ‘n wonderlike geleentheid vir die span om hul ritme te vind. Die snelbouler Gerald Coetzee keer terug na sy laaste eendagwedstryd vir Suid-Afrika in 2023 se Wêreldbekertoernooi. Aiden Markram, Lungi Ngidi, David Miller en Quinton de Kock het ruskans gekry tydens die reekse in Namibië. Bavuma sê hulle is gereed om een van die wêreld se beste spanne te pak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-861-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-405-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: Die brandreaksie-onderneming Fire Ops SA waarsku oor ‘n skerp toename in struktuurbrande wat verbind word met sonkraginstallasies. Die uitvoerende hoof en adjunkbrandweerhoof, De Wet Engelbrecht, sê data van Fire Force toon een uit elke vier van hierdie brande word verbind met foutiewe sonkragstelsels. Hy sê batterye, kragomsetters en verwante toerusting is verantwoordelik vir bykans ‘n kwart van sulke brande. Engelbrecht vra huiseienaars om gekwalifiseerde installeerders te gebruik, stelsels jaarliks te laat diens, rookverklikkers aan te bring en nooit sonkrag-batterybrande self te probeer blus nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….