Nuus 08:00
BULLETIN 6 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Internasionale Betrekkinge en Samewerking veroordeel ‘n kennisgewing deur die Nigeriese Hoëkommissariaat en sê Nigeriërs in Suid-Afrika is veilig
# Die staat word beskuldig dat hy voete sleep met die ondersoek na die moord van ‘n KwaZulu-Natal-dominee
# En krieket, Sunrisers Eastern Cape is deur na die SA20-eindstryd
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die kennisgewing wat die Nigeriese Hoëkommissariaat in Pretoria uitgereik het, is betreurenswaardig. Die kommissariaat het gewaarsku teen wat hy beskryf as bedekte dreigemente teen Nigeriërs wat in Suid-Afrika woon. Dit is in aanloop tot dié twee nasies se halfeindwedstryd vandag in die Afrikabeker. Die kommissariaat maan sy burgers om nie uitlokkend fees te vier indien die Super Eagles wen nie. Die departement se woordvoerder, Clayson Monyela, sê die kennisgewing veroorsaak ontsteltenis en onnodige spanning:
# ‘n Koalisie van vooraanstaande organisasies pleit by president Cyril Ramaphosa om môreaand ‘n hervormende staatsrede te lewer. Die organisasies, insluitend die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid, en Corruption Watch, vra Ramaphosa in ‘n ope brief om regeringsbeleid oor alle sektore te belyn om die behoeftes van gemarginaliseerde gemeenskappe aan te pak. Hulle kritiseer ook die Nasionale Tesourie vir die moontlike vermindering van befondsing aan belangrike maatskaplike programme soos geslagsgeweld. Die groepe versoek die regering om voorkeur te gee aan werkloosheid, maatskaplike toelaes te verbeter en in infrastruktuur en ekonomiese uitbreiding te belê.
# Die staat word beskuldig dat hy tyd verspeel met die afhandeling van die ondersoek na die moord op dominee Liezel de Jager van die NG Kerk Suidkus. Haar man, Werner de Jager wat van haar moord beskuldig word, het gister in die Amanzimtoti-landdroshof verskyn. Aanklaer Gayle Greyling sê hulle het drie maande nodig om die ondersoek af te handel. De Jager se regsverteenwoordiger, Andre May, sê dis onaanvaarbaar dat die ondersoek nie voltooi is sedert sy kliënt in Oktober gearresteer is nie. Die borgtog-uitspraak vind na verwagting op die 22ste van die maand plaas.
# Katar se eerste minister, Mohammed bin Abdulrahman Al Thani, sê Hamas se reaksie op voorstelle dat die res van die gyselaars in Gaza vrygelaat en gevegte met Israel gestaak word, was oorwegend positief. Katar is een van die belangrike bemiddelaars in onderhandelings met Hamas. Onderhandelaars in Parys het teen die einde van verlede maand ingestem tot die voorstel se raamwerk. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê hulle oorweeg Hamas se reaksie en sal dit vandag met Israelse regeringsamptenare bespreek.
# Krieket: Die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het Durban’s Super Giants op Nuweland met 51 lopies verslaan om hulle tweede agtereenvolgende SA20-eindronde te haal. Die Sunrisers het 157 vir agt aangeteken met Dawid Malan wat 63 bygedra het. In antwoord daarop het Marco Jansen en Ottniel Baartman elk vier paaltjies laat kantel en die Super Giants was op net 106 almal uit met nog drie balle oor. Sunrisers se afrigter, Adrian Birrell, sê die span was die hele toernooi lank indrukwekkend:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-793-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en 34-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….