Nuus 09:00
BULLETIN 9 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika moet steeds swakpunte in sy finansiële stelsel regstel nadat hy die gryslys verlaat het
# Die VF Plus kritiseer Ekurhuleni vir die besteding van 57-miljoen-rand sonder werklike resultate
# En Benjamin Netanyahu is na bewering gewaarsku voor die Hamas-aanval van 7 Oktober 2023
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys beteken nie dat elke swakheid in die stelsel opgelos is nie. Hy sê dit is hoekom die regering tans nasionale evaluerings doen van die risiko’s rondom geldwassery en terrorismefinansiering. Suid-Afrika is verlede jaar van die gryslys verwyder nadat die land sy verbeterde vermoë gedemonstreer het om geldwassery en terrorismefinansiering te bestry. Masondo sê die land moet voortgaan om te wys dat hy finansiële misdade opspoor, ondersoek en die skuldiges vervolg.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het met die Spesiale Ondersoekeenheid se hoof, Leonard Lekgetho, vergader vir ‘n bywerking oor ondersoeke na bewerings van wanadministrasie, bedrog en korrupsie in die sektor vir naskoolse onderwys en opleiding. Die eenheid het meer as twee-miljard-rand, wat met die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente verband hou, teruggevind by universiteite en TVET-kolleges. Hulle het ook skulderkennings van ongeveer 5,4-miljoen-rand gekry. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die eenheid het ʼn uitgawe van 109-miljoen-rand voorkom deur ʼn sekuriteitskontrak by die Vaal Universiteit van Tegnologie te kanselleer:
# Die Vryheidsfront Plus sê Ekurhuleni se kleinkind-ontwikkelingsprogram is ʼn goeie voorbeeld hoe miljoene rand aan infrastruktuur bestee word sonder dat al die gemeenskappe bereik word wat veronderstel is om daarby te baat. Die oorspronklike boukoste van die drie sentrums in Vosloorus, Edenpark en Tsakane beloop sowat 57,4-miljoen-rand. Marlize Herbst van die VF Plus sê hierdie bedrae weerspieël slegs die aanvanklike kapitaalkoste en sluit nie die voortgesette besteding aan veiligheid, instandhouding, herstel en roetine-opknapping in nie:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, is blykbaar enkele dae voor die aanval op 7 Oktober 2023 deur president Mohammed bin Zayed van die Verenigde Arabiese Emirate gewaarsku dat Hamas ʼn groot aanval op Israel beplan. Dit was die dodelikste aanval in Israel se geskiedenis, waarin meer as een-duisend-200 mense vermoor en meer as 250 na Gaza ontvoer is. Volgens ʼn boek deur Haaretz-joernaliste, het Netanyahu tydens ʼn telefoongesprek aan Bin Zayed gesê Israel is voorbereid op enige situasie. Netanyahu se kantoor sê die verslag is ʼn “volslae leuen”.
# Sokker: Jose Mourinho se terugkeer na die Kampioeneliga het goed begin met Real Madrid wat Inter Milan met 2-1 op die Santiago Bernabeu geklop het. Die Fanse kaptein, Mbappe, is met 71 doele nou in die gesamentlike vyfde plek op die lys van die beste doelskieters vir die Kampioeneliga en die Europese Beker. Erling Haaland het twee doele vir Manchester City behaal in ‘n gemaklike oorwinning van 2-0 oor FC Porto; Aston Villa het Club Brugge 3-2 verslaan; Borussia Dortmund het Villarreal met 3-2 geklop; terwyl Real Betis oor Lille geseëvier het, ook met 3-2.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-888-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-375-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….