Nuus 06:00
BULLETIN 9 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Geordin Hill-Lewis sê dringende ekonomiese hervormings is onvermydelik
# Suid-Afrika het geen planne vir ‘n algehele verbod op sosiale media vir kinders onder 16 nie
# En Brittanje verbied invoere van Israelse nedersettings in die Wesoewer
# Die leier van die DA, Geordin Hill-Lewis sê die party is gereed om met die regering saam te werk om ekonomiese groei te verbeter, maar sal voortgaan om druk uit te oefen vir vinniger en meer ambisieuse hervormings. Hill-Lewis voer aan die regering kan nie stadige hervormings bekostig terwyl miljoene mense werkloos bly nie. Hy het president Cyril Ramaphosa en die regering van nasionale eenheid versoek om veranderinge te bespoedig wat beleggings kan lok, infrastruktuur kan verbeter en werksgeleenthede kan skep:
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het vier hooggeplaaste amptenare geskors, hangende die uitslag van ‘n ondersoek na bewerings van bedrog wat verband hou met ‘n steenkoolvoorsieningstender. ‘n Strafsaak is by die Valke aanhangig gemaak. Minister Groenewald sê ‘n omvattende forensiese oudit word onafhanklik gedoen, wat alle teenstrydighede in die tenderproses sal uitwys. Hy sê dit sal die grondslag lê om ‘n waterdigte strafregtelike saak teen die skuldige partye te verseker.
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het ‘n verbod op toegang tot sosiale media vir kinders onder 16 uitgesluit. Dit is ten spyte van lande soos Australië en Maleisië se algehele verbod, te midde van toenemende kommer oor die uitwerking van sosiale media op kinders se gesondheid en veiligheid. In antwoord op ‘n parlementêre vraag het Malatsi gesê daar is tans geen onweerlegbare getuienis dat ‘n algemene verbod vir persone onder 16 jaar hulle werklik sal verhinder om aktief te wees op sosialemediaplatforms nie.
# Golden Arrow-busdienste het die Kaapstadse Arbeidshof genader om ‘n beplande staking deur die Nasionale Vakbond vir Alle Sektore vanaf Donderdag te stop. Die vakbond sê die lede sal van middernag af staak oor verskeie kwessies, insluitend dissiplinêre prosesse. Die busmaatskappy betwis die bewerings en respekteer werkers se reg op wettige arbeidsoptrede, terwyl hulle ook ‘n verantwoordelikheid het om passasiers, werknemers en die publiek te beskerm. Meer inligting oor die hofverrigtinge sal vandag verskaf word.
# Brittanje gaan die invoer van goedere van Israelse nedersettings in die besette Wesoewer verbied. Die minister van Buitelandse Sake, Ed Miliband, sê daar is etniese suiwering van Palestyne in dele van die Wesoewer deur setlaar-“terroriste”. Die sanksies sluit ook ‘n nuwe verbod op wapenlisensies en persoonlike sanksies teen sleutelpersone in wat daarvan beskuldig word dat hulle setlaargeweld bevorder. Elf lande, insluitend Frankryk, Kanada en Spanje, gaan soortgelyke sanksies instel. Miliband sê Israel se besetting van die Wesoewer is onwettig:
# Motorsport: Die Nieu-Seelandse bestuurder Liam Lawson sal Isack Hadjar se Red Bull bestuur in hierdie naweek se Spaanse Grand Prix in Madrid. Die Fransman het nog nie herstel van ‘n polsbesering wat hom uit die vorige twee Formule Een-wedrenne gehou het nie. Lawson se plek by Racing Bulls sal deur die Japannese bestuurder Yuki Tsunoda gevul word. Die span sê Lawson sal voortgaan om saam met die Nederlandse renjaer Max Verstappen te ry nadat hy in die Nederlandse en die Italiaanse Grand Prix gejaag het. Hadjar is tans agtste in die bestuurderskampioenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-492-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-354-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 101-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….