Nuus 15:00
BULLETIN 8 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Stygende invoere beperk Suid-Afrikaanse groei in die tweede kwartaal
# Minister Aucamp teken ‘n ooreenkoms om kersies na China uit te voer
# En rugby: Erasmus verwag nog ‘n rillerstryd teen die All Blacks
# Statistiek Suid-Afrika sê invoere het tussen April en Junie met 4,9-persent gestyg, aangevuur deur verhoogde aankope van nywerheids- en elektriese toerusting en mineraalprodukte. Uitvoere het met 0,9-persent gegroei, ondersteun deur hoër verkope van edelmetale en -stene. Belegging het ‘n tweede agtereenvolgende kwartaal afgeneem, hoofsaaklik weens swakker besteding aan bouwerk- en vervoertoerusting. Huishoudelike verbruik het met 0,4-persent gestyg, met verbruikers wat meer aan voedsel, drank en gasvryheid bestee het.
Die minister van Landbou, Willie Aucamp, het intussen ‘n ooreenkoms onderteken wat Suid-Afrikaanse kersies die eerste keer toegang gee tot die Chinese mark. Die ooreenkoms is in Beijing onderteken tydens die negende ministeriële vergadering oor landbougesondheid en voedselveiligheid. Aucamp sê hierdie is ‘n rekordprestasie, aangesien dit die tweede is wat binne ‘n jaar met China onderteken is. Hy sê dit sal beduidende ekonomiese voordele inhou. China het verlede jaar meer as 52-miljard-rand se kersies ingevoer, en die nuwe uitvoergeleentheid sal na verwagting sowat 600 werksgeleenthede skep.
# Die polisie het 30 buitelandse burgers in hegtenis geneem en op onwettige mynboutoerusting beslag gelê tydens ‘n klopjag in Mohlakeng, Gauteng. Die operasie het onwettige mynbou geteiken en mynboutoerusting, goudhoudende materiaal en ander gereedskap is afgeneem. Polisie-woordvoerder Tintswalo Sibeko sê die verdagtes sal na verwagting aangekla word van onwettige mynbou en oortreding van die Immigrasiewet. Hy sê die polisie beloof om voort te gaan met operasies teen onwettige mynbou, wat veiligheids- en omgewingsrisiko’s inhou.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus verwag ‘n reuse-aanslag van die All Blacks in Saterdag se vierde en laaste toets in Baltimore. Hy het twee veranderings gemaak aan sy opdrafspan – Damian Willemse vervang die beseerde Cheslin Kolbe op heelagter, en Morné van den Berg begin op skrumskakel, met Cobus Reinach op die bank. Erasmus glo die Bokke moet hulle aanval verder verskerp om te wen en die reeks 3-1 te beklink:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-405-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Dobbelraad sê dobbel moet ontspanning bly en nooit beskou word as ‘n bron van inkomste of oplossing vir finansiële probleme nie. Die raad, in samewerking met Africa Imagine Alliance, het by Afrika-dobbelreguleerders en rolspelers aangesluit om Afrika Veiliger Dobbel-week te vier. Die raad se waarnemende hoof, Lungile Dukwana, sê dobbel hou altyd die gevaar van finansiële verlies in, en om daarvoor te probeer opmaak, kan finansiële probleme vererger:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….