Nuus 13:00
BULLETIN 8 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie stel ‘n nuwe Waninligtings-kode bekend voor die munisipale verkiesing
# Australië wil gebruikers groter beheer gee oor algoritmiese inhoudstrome
# En krieket: Kevin Pietersen help Engeland met voorbereidings vir volgende jaar se eendagwêreldbekertoenooi in Suider-Afrika
# Die Verkiesingskommissie het ‘n verkiesings-gedragskode teen waninligting in die plaaslike regeringsverkiesing goedgekeur en in die Staatskoerant gepublisheer voor die verkiesing op 4 November. Die kommissie sê dit behels dat politieke partye en kandidate moet seker maak inligting is betroubaar voor hulle dit deel. Hulle moet enige verkeerde of misleidende inligting binne 36-uur in die openbaar onttrek en regstel. Die OVK sê ʼn vrye en regverdige verkiesing hang nie net af van prosedurele regverdigheid nie, maar ook of kiesers die inligting kan vertrou wat hul keuses bepaal.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag weerlê bewerings oor soldate op ‘n opleidingsending in Kuba wat verplig word om sogenaamde vrywillige bydraes te maak om behoeftige Kubane te help. News24 berig senior soldate is na bewering onder druk geplaas om meer as 15-duisend-rand elk te skenk en junior offisiere meer as drie-duisend-rand elk. Die Weermag sê hoewel ‘n voorlopige verslag reeds ontvang is, wag hy op ‘n volledige verslag oor die aangeleentheid. Hy voeg by onverantwoordelike en misleidende bewerings ondermyn openbare vertroue en kan betrekkinge tussen Suid-Afrika en Kuba skaad.
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, sê sy regering hou tegnologiereuse soos Meta, TikTok, Alphabet, X en Reddit aanspreeklik en gee burgers groter beheer oor hul inhoudstrome. Australië het konsepwetgewing bekend gestel wat gebruikers van sosiale media groter beheer oor algoritmiese inhoudstrome sal gee, insluitend die keuse om persoonlike aanbevelings af te skakel. Albanese sê die wet teiken ook skadelike aanlyn inhoud en verslawende platform-ontwerpe, met swaar boetes vir nie-nakoming:
# Krieket: Die voormalige Engelse kaptein Kevin Pietersen het by die land se witbalspan aangesluit as ‘n spesialismentor terwyl die span voorberei vir volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe. Die 46-jarige Pietersen, wat in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, gebore is, sal deel wees van Brendon McCullum se afrigtingspan vir hierdie maand se T20- en eendagreekse teen Sri Lanka. Hy het meer as vyf-duisend-500 lopies in 136 eendagwedstryde en 37 T20-wedstryde vir sy aangenome land aangeteken voordat hy in 2014 uitgetree het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-7-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-623-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-396-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sy meegevoel betuig met Tanzanië se president, Samia Suluhu Hassan, ná die dood van haar man, Hafidh Ameir Hassan. Die 71-jarige is gister dood terwyl hy behandeling vir ‘n hartkwaal ontvang het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Hassan het ‘n uitsonderlike loopbaan as landbou-akademikus en landboukundige gehad:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….