Nuus 12:00
BULLETIN 8 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie stel ‘n nuwe Waninligtings-kode bekend voor die munisipale verkiesing
# Cosatu sê die Wysigingswetsontwerp op Openbare Verkryging sal korrupsie pak
# En sokker: ‘n Presidentskandidaat gee SAFA ‘n sperdatum om Bafana Bafana se Wêreldbeker-bonusse te betaal
# Die Verkiesingskommissie het ‘n verkiesings-gedragskode teen waninligting in die plaaslike regeringsverkiesing goedgekeur en in die Staatskoerant gepublisheer voor die verkiesing op 4 November. Die kommissie sê dit behels dat politieke partye en kandidate moet seker maak inligting is betroubaar voor hulle dit deel. Hulle moet enige verkeerde of misleidende inligting binne 36-uur in die openbaar onttrek en regstel. Die OVK sê ʼn vrye en regverdige verkiesing hang nie net af van prosedurele regverdigheid nie, maar ook of kiesers die inligting kan vertrou wat hul keuses bepaal.
Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, waarsku intussen Suid-Afrikaners wat identiteitsdokumente moet kry om dadelik aansoek te doen voor die verkiesing. Hy vra ook diegene wat hul ID’s moet gaan haal om dit so gou moontlik te doen. Teen verlede maand was daar meer as 370-duisend slim-ID’s wat afgehaal moes word. Schreiber sê Binnelandse Sake het dramaties uitgebrei met gedigitaliseerde slim-ID-dienste wat binne vyf maande in meer as 450 banke beskikbaar gestel is.
# Die vakverbond Cosatu sê indien die Wysigingswetsontwerp op Openbare Verkryging bekragtig word, sal dit ʼn belangrike wapen wees in die stryd teen staatskaping en korrupsie. Die wetsontwerp is daarop gemik om die Wet op Openbare Verkryging te versterk. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê werkers het betaal en betaal steeds ʼn groot prys vir staatskaping en korrupsie wat honderde miljarde rand van die staat geplunder het:
# Sokker: ‘n Presidentskandidaat van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Sandile Zungu, het SAFA tot Donderdag tyd gegee om Bafana Bafana se spelers en tegniese span se Wêreldbeker-bonusse te betaal. SAFA skryf die vertraging toe aan uitstaande nakoming van internasionale belastingvereistes in Amerika en Mexiko, waar Suid-Afrika wedstryde gespeel het, om sowat 2,5-miljoen-rand aan elke speler te betaal. Zungu waarsku die verantwoordelike persone sal afgedank word as hy Saterdag verkies word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-380-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-395-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: MultiChoice het ‘n nuwe DStv-pakket met slegs sportkanale bekend gestel teen 399-rand per maand. Die uitsaaier reageer op veranderende kykgewoontes en druk op intekenaargetalle. Die pakket bied kliënte toegang tot ‘n verskeidenheid regstreekse sportuitsendings sonder om ‘n groter DStv-pakket uit te neem. MultiChoice sê dis daarop gemik om sekere premium-sport toegankliker te maak sonder om ook te betaal vir vermaak-kanale. Groot sportgebeurtenisse soos Springbok-toetse, toetsrugby, Fomule Een en MotoGP bly egter beperk tot DStv se Premium-pakket van 799-rand per maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….